Ilhaam Groenewald ontvang Provinsiale Ministeriële erkenning vir haar bydrae tot sportleierskap in Suid-Afrika

Sy het al groot lof verwerf vir haar ongelooflike bydrae tot sportleierskap en die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse vroue in sport, en was onder meer die eerste onafhanklike uitvoerende raadslid van SA Rugby (SARU) en ‘n lid van die SASCOC-raad. Haar mees onlangse toekenning, ‘n ministeriële toekenning van die Wes-Kaapse regering se departement kultuursake en sport, is nog ‘n bewys van Ilhaam Groenewald, Universiteit Stellenbosch (US) se hoofdirekteur: Maties Sport, se toewyding, passie en geloof om sport in Suid-Afrika te bevorder en meer deure oop te maak vir vroue in sport — jonk en oud.

“Vanjaar vier ek ‘n dekade by die US, en wat ‘n ongelooflike reis is dit nog steeds,” sê Groenewald, met verwysing na haar opgewondenheid oor haar aanstelling wat vir nog vyf jaar as hoof van Maties Sport hernu is. “Toe ek in 2014 by die Universiteit aangesluit het, het ons net twee sportkodes in ons hoëprestasieprogram by Maties Sport aangebied: rugby en hokkie. Vandag bied ons 31 sportkodes aan. Ons het ‘n merkwaardige groei van 300 persent in ons hoëprestasie-sportkodes gesien en ons het ons kampussportaanbieding oor die afgelope tien jaar uitgebrei.

Groenewald sê sy is trots op Maties Sport se betrokkenheid by die skep van die US se ontspannings- en leefstyleenheid, die enigste in sy soort by ’n Suid-Afrikaanse universiteit. “Ons weet daar is studente wat van skole kom waar daar geen ontspanningsaktiwiteite was nie. Ons moet hulle help om aktief te word. Ek is trots op wat ons bereik het met hierdie inisiatief en die groei wat ons met ons programaanbieding ervaar.”

Groenewald sê hoewel sy die toekenning ontvang het, sou sy dit nie kon doen sonder diegene wat die afgelope dekade saam met haar gewerk het nie. “Ek moet noem Kass Naidoo, stigter van die G-Sport en haar geweldige werk vir vroue in sport en die toekennings wat sy geïnisieer het, wat daartoe gelei het dat ek ‘n ontvanger van die Nasionale Ministeriële van Sport, Kuns en Kultuur in 2019 was’, sê Groenewald.  Sy gee ook erkenning aan die Universiteit Stellenbosch-leierskap, veral ons bedryfshoof, professor Stan du Plessis en die #MaroonMachine-familie vir hul visie, leiding en ondersteuning. .

Bekend vir haar toewyding en voorspraakwerk vir transformasie, wat verder gaan as ras en geslag, glo Groenewald dat sy deur sport te gebruik, geslaag het in haar strewe om verskeie vroue en mans van alle ouderdomme vir sportloopbane te mentor. “Ek glo daarin om ’n diverse en transformerende omgewing vir studente, personeel en ons gemeenskappe te skep, iets wat ek sien as ’n inklusiewe reis waar mense die belangrikste aspek is. Menslike hulpbron- en talentbestuur is noodsaaklik in ons strategie; daarom glo ek sterk daaraan om die beste mense te werf, hulle geleenthede te gee en hulle te ontwikkel, gelei deur ons opvolgplan,” sê Groenewald, wat personeelwelstand voorop stel.

Groenewald sê Maties Sport volg ‘n volhoubare sakemodel. Hul geweldige sukses met fondsinsameling, borgskap en optimale gebruik van tegnologie is deel van die rede waarom hulle daarop kan aanspraak maak dat hulle operasioneel uitstekend en innoverend is.

Toegewyd aan hul transformasie- en volhoubare reis, is Groenewald vol vertroue dat Maties Sport op ‘n fantastiese trajek is om in die toekoms nog meer momentum te kry. “Ons het van die beste fasiliteite in die land, ‘n puik span en leierskap by die US, en ons merkwaardige ligging, wat ons ‘n gunsteling sportbestemming in die land maak. Ons het reeds die groot ligas gelok om hul geleenthede by ons fasiliteite aan te bied, en in die volgende vyf jaar het ons groot planne. So, hou hierdie spasie dop,” sê Groenewald.