Kom ons beweeg saam! Gereedskapstel vir voetsoolvlaksportleiers

Aan die begin van 2022 is ek deur my voormalige PhD-studieleier genader met inligting oor ’n projek wat deur die Internasionale Raad vir Sportwetenskap en Liggaamlike Opvoeding (ICSSPE) geïnisieer is, met befondsing van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO). Ek is aangemoedig om aansoek te doen en is gekies as een van agt deelnemers wat Namibië, Suid-Afrika en Zambië verteenwoordig in die Empowering Future Leaders in International Grassroots Sport-projek.

Die doel van dié projek is om geleerdes (diegene wat sport op nagraadse vlak gestudeer het) en implementeerders (diegene wat in die veld van sportontwikkeling werksaam is) bymekaar te bring, werkswinkelopleidingsessies en seminare te verskaf vir die ontwikkeling van ’n gereedskapstel.

Daar is baie gereedskapstelle in die veld van sportontwikkeling, maar wat hierdie gereedskapstel van ander onderskei, is dat dit geleerdes en implementeerders bymekaar gebring het, om ervarings uit die veld te deel en die ervarings van die implementeerders te gebruik as die grondslag vir die gereedskapstel se inhoud.

Gereedskapstelle word oor die algemeen deur vakkundiges vir implementeerders ontwikkel, sonder insette van en samewerking met implementeerders, om relevansie te verseker vir die konteks waarin die gereedskapstel gebruik gaan word. Deur nou beide groepe bymekaar te bring, het ICSSPE verseker die gereedskapstel relevante kennisvoorbeelde en inligting vir voortdurende Afrika-uitdagings op die gebied van sportontwikkeling sal insluit en verskaf. Dit is ’n Afrika-gereedskapstel, deur jong Afrikane, vir jong Afrikane.

Om deel te wees van hierdie projek was ’n voorreg. Ek glo ook dat die onder-na-bo-benadering wat in hierdie studie gebruik word, een van die maniere is waarop ons aktief kan begin werk om oplossings vir Afrika-sport te vind. Diegene wat daagliks in sport op grondvlak werk, is ’n groter bron van kennis en oplossings as waarvoor hulle krediet kry. My ervaring met hierdie projek bewys dit.

Ek is trots daarop dat ek gehelp het om Let’s Get Moving Together te ontwikkel. ’n Gereedskapstel vir voetsoolvlaksportleiers. Ek hoop dat as jy hierdie lees en betrokke is (of betrokke wil wees) by sport op gemeenskapsvlak, jy hierdie gereedskapstel sal aflaai, lees en binne jou netwerk deel.