Maties bied USSA Sewesrugbytoernooi in Stellenbosch aan

Stellenbosch het gegons met energie toe Maties die gasheer was vir Universiteitsport Suid-Afrika (USSA) se sewesrugbytoernooi. Die Danie Craven-stadion was die middelpunt van die aksie en ons spanne het vir die skare baie redes gegee om te juig. Die openingseremonie is op die Vrydag gehou, en het die toon aangegee vir ’n energieke toernooi vol gees. 

“Rugby was nog altyd meer as ’n sport. Dit bou karakter, smee vriendskappe en verenig ons,” sê Sean Surmon, Direkteur: Maties Sport. 

Foto’s van die geleentheid wys stampvol pawiljoene in die Danie Craven-stadion met spanne in hul volledige spandrag, die nasionale en universiteitsvlae wat waai, en ’n feestelike atmosfeer gekenmerk deur musiek, toejuiging en gedeelde opwinding. 

Vir Maties het die aanbied van USSA se sewesrugbytoernooi nie net oor daardie kompetisie gegaan het – dit was ook voorbereiding vir die FISU Wêrelduniversiteit-sewesrugbykampioenskap wat in 2026 op Stellenbosch sal plaasvind. 

Maties se vrouespan het die Saterdag afgeskop met ’n oortuigende oorwinning van 31-0 oor VUT. Die mans se openingswedstryd was moeiliker, en hulle het 12-17 teen UP-Tuks verloor. Hoewel hulle nie die uitslag gekry het wat hulle wou gehad het nie, het hul poging vasberadenheid en veggees getoon. 

Aan die einde van dag twee het albei Maties-spanne teen NWU-Pukke gespeel in die eindstryd van die onderskeie groepe waarin hulle ná die toernooi se uitslae geval het. Die mans het 19-12 geseëvier, en die vroue 33-10. 

Samevattend het die kompetisie bestaan uit ’n naweek van goeie prestasies, duidelike tekens van groei en trots in hoe Maties se spanne onder druk gereageer het. Hoewel nie elke wedstryd ’n oorwinning was nie, het die karakter en vaardighede wat die spanne ten toon gestel het, baie hoop vir die toekoms gegee. 

Die fondament wat tydens hierdie toernooi gelê is, berei die weg vir selfs groter prestasies in 2026! 

Deur Jamie Wyngaardt