Maties Klim se Jeremy van der Riet het die moeilikste roete baasgeraak by die jaarlikse “Black Diamond Tradathon” – ’n tradisionele rotsklimfees waartydens deelnemers swaartekrag trotseer met fisieke en geestelike krag.
Maties is ook deur Megan Pons verteenwoordig. Die geleentheid, wat aangebied is in Monteseel in KZN, het 25 topklimmers gelok. Die Maties het saam vyf roetes op die dag voltooi.
Jeremy, wat vierde op die ranglys is in Suid-Afrika, het “Leper Messiah” (gradering van 24) geklim om eerste in die “Moeilikste roete”-kategorie te kom. Dit was egter nie die moeilikste roete wat hy al baasgeraak het nie – hy het ook al “Double Jeopardy” (gradering van 30) teen die hange van Tafelberg voltooi.
“Tradisionele rotsklim is die historiese vorm van klim, maar dit het minder gewild geraak weens toegangskwessies, die koste van toerusting en die vaardighede wat vereis word,” sê Jeremy, wat in die tweede jaar is van sy meestersgraad in natuurekonomie en -bewaring. “Maar by Maties moedig ons tradisionele klim aktief aan. Ons het in toerusting belê en sal vaardigheidswerksessies aanbied.”
Die Tradathon sal in 2026 in Montagu plaasvind, en die klub hoop om ’n groter, vaardige, en beter toegeruste span vir die geleentheid bymekaar te maak.
“Ek is ’n vierdegenerasieklimmer en klim al sedert ek drie jaar oud was. Nou fokus ek egter op sportklim.”
Sportklim het uit tradisionele rotsklim ontwikkel en het binnenshuis geskuif na kunsmatige mure van tot 15 m hoog, met hand-, vinger, voet- en toongrepe wat verskillende roetes merk. Dit het in 2020 ’n Olimpiese sport geword.
“Mededingende klim is baie gewild omdat dit nie natuurelemente in ag hoef te neem nie. Om by ’n klimmuur uit te kom, is so maklik soos om gimnasium toe te gaan, en dit bied ’n opwindende vertoning vir toeskouers, borge en regstreekse dekking. Dit is ook makliker om telling te hou en data in te samel.
“Tradisionele klim behels stap met swaar toerusting, maar dit is meer ‘persoonlik’. Dit neem jou na die berge waar daar min mense is, jy kan jou in die natuur verdiep, en omdat dit regte rotse is, is die uitdagings meer veranderlik.
“Klim is ’n fantastiese sport vir almal, mits jy soepel is, nie bang is vir hoogtes nie, en bereid is om krag te ontwikkel – selfs in jou vingers en tone. Die grootste maatstaf, en plesier, is om jou eie limiete te oorkom. Dit help ook om joga te doen!” sê Jeremy.
Maties Klim het ’n volledig toegeruste klimmuur by Coetzenburg, asook nuwe toerusting. Rotsklimuitstappies is ook vir lede beskikbaar.


