As student-atleet aan die Stellenbosch Universiteit moet jy vinnig leer jy hoe om onafhanklik te wees en verantwoordelikheid vir jou aksies te aanvaar.
“As ’n Matie is ek in die posisie geplaas waar ek baie vinnig moes leer hoe om onafhanklik te wees. Ek moes vinnig leer oor take soos ’n begroting en tydsbestuur. Ek moes ook leer hoe om van vreemdelinge vriende te maak,” onthou Gemma Haywood, ’n voormalige Maties Waterpolo-speler.
“Ek het my tyd as ’n Matie baie geniet. Ek het ’n behoorlike studente ervaring gehad in my ses jaar as student in Stellenbosch. Dis ’n besonderse dorp. Jy kan oral heen loop. Die gees van die dorp is ook uniek. Dis amper soos ’n stukkie Europa in Afrika.”
’n Herinnering wat vir Gemma uitstaan in haar eerste jaar op Stellenbosch, is dat hulle as waterpolo-spelers dadelik in die diep kant ingegooi is.
“Verskeie eerste jaar studente wou waterpolo speel, maar daar was net ’n beperkte hoeveelheid plekke in die eerste span beskikbaar. Dit was dus ’n groot uitdaging om die groep te haal. Vyf van ons het die span gehaal en dadelik vriende geword…en ons is vandag nog vriende.”
Volgens Gemma het verskeie individue die kultuur van die Maties Waterpolo-klub oor die jare beïnvloed. Sy het egter Sarah Kravitz (voorheen Harris) se rol uitgesonder.
“Sarah het as afrigter ons spel en kultuur heeltemal verander terwyl sy hier was. Sy het ’n reuse-verskil gemaak aan spelers, die span en die klub. Haar invloed is nou nog sigbaar.”
Tans is Gemma die eienaar van haar eie gesondheid en welstand besigheid in Stellenbosch.
“Ek is so dankbaar dat ek vir myself kan werk. Ek het baie geleer van ander en dit was tydens die Covid-pandemie wat ek tot die besef gekom het, dat ek my eie ding wil doen. Dit was ’n passie-projek voordat dit realiteit geword het. Dit is nou vyf jaar en ek geniet elke oomblik. Ek doen waarvoor ek lief is. So dit voel nooit soos werk nie.
Gemma se besigheid se naam is GEM.
“Dit is my passie om mense te help, want ek wil hul ingesteldheid oor oefeninge, fiksheid en liggaamskrag verander. Ek sal baie graag nog ’n tak van GEM wil oopmaak om meer mense te bereik.”
Om ’n student aan die Stellenbosch Universiteit te wees, is ’n voorreg en Gemma glo almal wat daaraan dink om hier te kom studeer die kans moet aangryp.
“Die dorp is spreekwoordelik om die Universiteit gebou. Daar gebeur altyd iets. Die dorp is vol lewe.”