Maties se Fogle fokus op tweede FISU Wêreld Universiteitspele

Met sy eksamen agter die rug, kan die Stellenbosch Universiteit-student Jason Fogle nou op sy tennis fokus voordat hy na Duitsland vertrek.

Die opkomende tennisspeler van die Stellenbosch Universiteit is onlangs gekies om Suid-Afrika vir die tweede keer by die FISU Wêreld Universiteitspele te verteenwoordig. Vanjaar se byeenkoms is in Duitsland, vanaf 16 tot 27 Julie.

Nadat hy Suid-Afrika in 2023 internasionaal verteenwoordig het by die FISU Wêreld Universiteitspele (WUG) in Chengdu, China, is Fogle geen vreemdeling wanneer dit kom by die dra van groen en goud nie.

Nadat hy vir die groep gekies is, het Fogle sy vasberadenheid uitgespreek wanneer hy sy land se kleure dra: “Dit is ’n voorreg om Suid-Afrika te verteenwoordig. Wanneer jy speel, verteenwoordig jy nie net jouself nie, maar jou hele land. By internasionale toernooie is die vlak van mededinging ongelooflik hoog, die wedstryde is altyd moeilik. Maar om Suid-Afrika te verteenwoordig, maak die ervaring soveel meer betekenisvol en belangrik — dit laat jou soveel harder veg vir elke punt.”

Leer by ander student-atlete

Fogle het goeie herinneringe aan die vorige FISU Wêreld Universiteitspele in Chengdu en sê dit was een van die beste ervarings van sy lewe.

“Dit is so anders as om in ’n gewone tennistoernooi te speel, want jy is voortdurend omring deur atlete wat verskillende sportsoorte beoefen, en om net by hulle te leer, was ongelooflik,” sê Fogle.

Vir sy tweede Wêreld Universiteitspele beplan die ervare speler om een ding anders te doen. Hy gaan wat hy eet en drink prioritiseer deur sy liggaam te voed met dit wat die beste vir hom is.

Die 22-jarige, wat tans ’n Nagraadse Diploma in Rekeningkunde (PGDA) aan die Universiteit studeer, onthou dat hy op sesjarige ouderdom met tennis begin het.

“Namate ek ouer geword het, het ek privaatlesse begin neem en meer tyd aan die sport bestee. My ouers het my aangemoedig om verskeie sporte soos rugby, sokker en gholf te speel. Maar op 14 het ek besluit om op tennis te fokus, bloot omdat dit my gunsteling sport was en ek ’n groter passie daarvoor gehad het,” sê hy.

Fogle (regs, saam met sy oefenmaat) deel ook die belangrikste lesse wat hy uit sy ontwikkelende tennisloopbaan tot dusver geleer het: “Tennis het my baie dinge geleer soos dissipline, hoe om druk situasies te hanteer, en hoe om veerkragtig te wees. Deur tennis het ek die geleentheid gekry om die wêreld te reis, ander lande en kulture te ervaar en wonderlike vriende te maak.”

Terwyl die Suid-Afrikaanse groep sy finale voorbereidings afhandel, het Fogle sy studies en oefensessies gebalanseer, maar noudat sy eksamens klaar is, kan hy sy volle aandag op die kompetisie by die Spele plaas. In Duitsland gaan die spanne op kleibane speel. Omdat daar in Suid-Afrika meestal hardebane is, het Fogle en sy spanmaats effens anders as gewoonlik geoefen om vir klei voor te berei. Hulle gaan ’n finale oefenkamp op klei in Potchefstroom hê vroeg in Julie om aan te pas voordat hulle middel Julie vertrek om by die Spele mee te ding.

Alcaraz en Sinner motiveer hom om harder te oefen

Hy het ook ’n voorsmakie gekry van hoe intens wedstryde op klei kan wees — met die onlangse Roland-Garros-eindstryd tussen Carlos Alcaraz en Jannik Sinner het Fogle opgemerk hoe intens en hoe uitsonderlike dit was om daarna te kyk.

“Wat vir my as speler so ongelooflik is om te sien, is nie net dat hulle so ’n hoë vlak van tennis speel nie, maar dat hulle dit vir 5 uur en 29 minute kan volhou — dit is eintlik mal. Om na sulke atlete te kyk, laat my net harder werk tydens kondisioneringsessies,” sê hy.

Djokovic se spel op 37 inspireer hom

Fogle, wie se gunsteling speler die wêreldbekende Roger Federer is, sê dat Novak Djokovic hom ook motiveer omdat hy op die ouderdom van 37 steeds soveel kan regkry en in wedstryde kan terugveg.

“As hy dit kan doen, het ek geen verskoning om minder te doen nie,” voeg Fogle by.

Fogle sien baie uit na sy tyd in Duitsland:

“Ek sien uit daarna om in die stadion te speel, veral op klei. Europese klei is uniek om op te speel en dit is altyd ’n wonderlike ervaring. Ek sien ook uit daarna om in die atlete-dorp saam met al die ander atlete te bly, die Duitse kultuur te ervaar, en internasionale atlete van regoor die wêreld te ontmoet. Ek sien ook uit daarna om bietjie te toer en Duitsland te verken,” sluit hy af.

Geskryf deur Kimara Singh Ruiters vir FISU.net, foto’s verskaf deur Jason Fogle