Die 49ste uitgawe van die Stellenbosch Universiteit (SU) Maties Sporttoekennings is op Vrydag, 18 Oktober in die Coetzenburg-sentrum aangebied. Verskeie toekennings is aan die ere-gaste – ons student-atlete – oorhandig.
Die gasspreker vir die geleentheid was Ben-Jason Dixon, kaptein van die 2020 Varsitybeker-rugbyspan. Hy het sy graad in ingenieurswese in 2022 verwerf.
Dixon speel tans vir die Stormers en het vroeër vanjaar sy debuut vir die Springbokke gemaak. Met sy toespraak het hy verskeie inspirerende boodskappe met die student-atlete – gebaseer op sy eie ervarings as ’n voormalige student-atleet – gedeel. Hy het die belangrikheid van konsekwentheid vir sukses in sport of akademie beklemtoon.
Die geleentheid het begin met Prof. Stan du Plessis (SU se Hoof Bedryfsbeampte) en Ilhaam Groenewald (Hoofdirekteur van Maties Sport) wat 35 student-atlete met volle erekleure-toekennings vereer het om hul verteenwoordiging van Suid-Afrika in 2024 te vier.
Paralimpiese atlete Daniel du Plessis en Kerwin Noemdo, beide Maties-alumni, saam met Paul Daniels, ’n lid van die Maties Parasportklub, is vereer met die Hoofdirekteur se Spesiale Toekenning vir hul inspirerende prestasies. Hulle het almal aan die Paralimpiese Spele in Parys deelgeneem.
Vanjaar se gesogte Sportvrou en Sportman van die Jaar-toekennings is aan student-atlete wat volle kleure behaal het, akademies goed gevaar het, en hul spanne op senior provinsiale, nasionale en internasionale vlak verteenwoordig het, toegeken.
Ezekiel Ngobeni, ’n tweedejaarstudent, is as die Sportman van die Jaar vereer. Hy het Suid-Afrika in Wêreld Rugby se o.20-toernooi verteenwoordig. Hy was ook deel van die spanne wat die USSA-toernooi in 2023 en 2024 gewen het.
“Om hierdie toekenning te ontvang, voel amper onwerklik. In ’n spansituasie streef ’n mens nie na individuele toekennings nie, en juis daarom is ek nederig om so ’n groot eer te ontvang. Dit beloon harde werk en motiveer my vir die opwindende toekoms wat God vir my beplan,” sê Ngobeni.
Die 2024 Sportvrou van die Jaar is Crystal Beukes, ’n finalejaarstudent en passievolle gholfspeler. Beukes het die universiteit en Suid-Afrika op twee geleenthede verteenwoordig.
“Ek voel uiters geseënd om die toekenning te ontvang. Dit is ’n groot eer om deel van die Maroenmasjien te wees, en dit is wonderlik om so geseën te word vir harde werk. Dit is beslis die hoogtepunt van my jaar!” sê Beukes.
Hierdie jaar het 37 studente ’n cum laude-onderskeiding behaal gebaseer op hul prestasies in die vorige akademiese jaar. Al hierdie studente het toegewyde lede van hul onderskeie klubs gebly, hetsy in hoëprestasie- of mededingende sport. Elke student-atleet het ’n toekenning ontvang as toppresteerders op akademiese gebied.
Die Afrigter van die Jaar-toekenning (Spansport) is oorhandig aan Maties Rugby se hoofafrigter, Kabamba Floors, ter viering van sy onwrikbare toewyding aan die groei en ontwikkeling van sy studente-spelers.
Die eerste groot span-toekenning van die aand, die Klub van die Jaar, is oorhandig aan Maties Rugby. Die klub het vir die derde agtereenvolgende jaar USSA se 15man-toernooi gewen. Daarmee saam het al drie Maties se spanne in die Varsitybeker-toernooi – mans, vroue en o.20s – die halfeindronde van die toernooi gehaal.
Maties Krieket is aangewys as die Span van die Jaar. Dié span het die Bolandliga gewen en is aan die einde van die 2023/24-seisoen na die Kampioenskap-afdeling bevorder. Verder het vier van die klub se spelers professionele kontrakte ontvang. Lehan Botha, Gysbert Wege en Ethan Cunningham het kontrakte met Boland Krieket geteken, terwyl Suid-Wes Distrikte die voormalige Suid-Afrika o.19-kaptein George van Heerden gekontrakteer het.
Vanjaar was daar vir die eerste keer ’n toekenning vir die klub wat die meeste verbeter het. Maties se roeiklub was die eerste om die eerbewys te ontvang. Albei A- en B-manspanne het die USSA-byeenkoms gewen. Dit was ’n geskiedkundige oomblik vir die klub.
Atletiekafrigter Daniel Damon is aangewys as Afrigter van die Jaar (Individuele Sport) nadat hy aangestel is as Hoofafrigter vir velditems vir Suid-Afrika by die 2024 Paralimpiese Spele in Parys.
Die ervare muurbalafrigter Richard Castle, is vereer vir sy uitsonderlike toewyding aan die Maties-muurbalklub. Hy het dit sy missie gemaak om die klub na nuwe hoogtes te neem. Danksy Castle se afrigtingstrategieë is hy as die Afrigter van die Jaar-toekenning in die Mededingende Sportkategorie aangewys.
Baie geluk aan al die benoemdes en wenners. Julle pogings op en van die verhoog af is die moeite werd om te vier.
2024 Maties Sporttoekennings Wenners:
- Sportman van die Jaar: Ezekiel Ngobeni (Rugby)
- Sportvrou van die Jaar: Crystal Beukes (Gholf)
- Afrigter van die Jaar (Spansport): Kabamba Floors (Rugby)
- Afrigter van die Jaar (Individuele Sport): Daniel Damon (Atletiek)
- Afrigter van die Jaar (Mededingende Sport): Richard Castle (Muurbal)
- Span van die Jaar: Maties Krieket
- Mees Verbeterde Klub van die Jaar: Maties Roei
- Klub van die Jaar: Maties Rugby
- Student-administrateur van die Jaar: Dylan Schmidt (Roei)