Die Maroenmasjien is besig met sy finale voorbereidings vir die Universiteit Sport Suid-Afrika (USSA)-toernooie, wat 2-16 Desember regoor die land plaasvind.
Hierdie jaar se somer-toernooie bestaan uit nege sportkodes, waaronder basketbal, tafeltennis en seiljagvaart in Kaapstad; krieket en gholf in Bloemfontein; sokker in Kimberley; skaak en tennis in Pretoria en waterpolo in Oos-Londen.
By die onderskeie kompetisies in 2024 het Maties goud huis toe gebring in Afdeling A van vroue- en manswaterpolo, skaak, vroue-gholf, sowel as goud in die Afdeling B vir manssokker. Maties het ook bronsmedaljes gewen in tafeltennis en die mans se gholfspan.
Die Registrateur van Stellenbosch Universiteit, Dr. Ronel Retief, ’n groot ondersteuner van Maties Sport en ons student-atlete, was die gasspreker by die spanne se afskeidsfunksie.
“Ek erken die enorme poging wat dit verg om akademie en sport te balanseer. Baie van julle het pas ’n intense eksamenperiode voltooi, en tog is julle hier, gereed om op die hoogste vlak te kompeteer. Daardie balans tussen akademie en sport is nie net uitdagend nie – dit is ’n kernaspek van wat universiteitsport so spesiaal maak. Dit leer jou dissipline, tydbestuur en ’n gebalanseerde perspektief, wat jou voorberei vir die lewe ná jy jou graad ontvang het.
“Wanneer julle aan hierdie toernooie deelneem, onthou dat julle nie net atlete is nie – julle is ambassadeurs van Stellenbosch Universiteit. Of julle in aksie is, ’n spanmaat aanmoedig, of bloot goeie sportmangees uitleef, dra julle die hoop en trots van die Stellenbosch Universiteit-familie saam. Gaan uit, gee jou alles en bring die medaljes huis toe. Ons ondersteun julle elke tree van die pad. Alles van die beste, Maroenmasjien!”
Ons student-atlete het hul opgewondenheid oor die komende byeenkomste met die onlangse USSA-afskeidfunksie gedeel. Een so ’n spesiale oomblik was toe Riaz Palekar, ’n meesterstudent in Ekonomie en senior speler van die Maties-krieketspan, ’n insiggewende toespraak aan sy medestudent-atlete gelewer het.
“Toe ek grootgeword het, het ek besef dat wie ek is sonder dit waarin ek goed is (my sport), my werklik as persoon definieer. Dié lewensmantra het my benadering tot my sport verander. Dit was my manier om deur daardie onsekerheid oor my vermoë te breek. Dit maak nie saak hoe goed of sleg ek speel nie, ek verstaan nou dat die son die volgende dag weer sal skyn. Ons ouers, vriende of lewensmaats sal ons liefhê met of sonder die sport wat ons speel.
“Hulle is die rede waarom ek soveel opoffer vir die kans om suksesvol te wees. Ek speel vir iets wat baie groter is as ek. Dit is my boodskap aan almal vandag: wanneer tye moeilik raak, onthou die mense wat daar is vir jou deur die goeie en slegte tye. Laat dit jou bron van motivering wees om vas te byt en kompeterend te bly,” het Palekar gesê.
Nog ’n bron van inspirasie was die suksesvolle promosie van ons Maties Sokker-manspan na Afdeling A.
Maties Sokker se hoofafrigter, Desmond Crowie, het sy gedagtes oor die span se komende toernooi gedeel.
“Ons het die finale fase van ons voorbereiding met ’n gefokusde en intensiewe ’n oefenkamp van twee weke afgesluit. Ons span is verbind daartoe om voortbou op verlede jaar se sukses. Ons uiteindelike doel is om ’n plek in die Top 8-spanne te verseker en so vir die Varsity-sokkerreeks te kwalifiseer. Die spelers en personeel is verenig in hul poging, en ons sien uit daarna om onsself teen die beste universiteitspanne in die land te toets.”
Met hierdie motiverende boodskappe wat by die spanne weerklink, is Maties Sport gereed om vanjaar se USSA-byeenkomste ’n onvergeetlike ervaring te maak.