Nuwe afrigter vir Maties Netbal

Maties Netbal kondig met trots aan dat Sasha-Lee Petersen vanaf Januarie 2025 die nuwe hoofafrigter van Maties Netbal sal wees.

Petersen is al meer as ’n dekade betrokke by Maties Sport as ’n student-atleet van 2014 tot 2020 en sedert 2021 is sy ’n afrigter by Maties Netbal. Van haar dae as speler in die Varsity-netbaltoernooi vir die Maroenmasjien tot assistent-afrigter van die eerstespan hierdie jaar, het Petersen haar plek verdien en nou haar lewenslange droom bewaarheid met haar rol as hoofafrigter van Maties Netbal.

“Dit is natuurlik ’n groot eer vir my. Ek is mal oor hierdie klub én die universiteit, en om terug te kan gee aan ’n plek wat soveel vir my beteken het beteken baie vir my. Dit is hier waar alles begin het. Ek dink nie die werklikheid van die taak en voorreg het al ingesink nie. Ek is egter baie opgewonde en ek het reeds planne vir die span!” het Petersen ná haar aanstelling gesê.

Petersen het die voorreg gehad om verskeie afrigters as mentors te hê wat haar gehelp het om haar filosofie as afrigter te verfyn. Sy het verskillende lesse van die afrigters waaronder sy op verskillende vlakke gespeel het, ingeneem en dit met haar eie styl gekombineer. Sy glo in samewerking met verskillende persone in ander sportkodes om ’n holistiese benadering te volg. Sy het haar dankbaarheid uitgespreek vir al die hulp wat sy tot dusver op haar reis as afrigter ontvang het.

Haar filosofie en benadering tot afrigting sluit kenmerke soos uitnemendheid, trots en ’n holistiese benadering tot die groei van spelers in.

Oor haar visie en hoop vir die span in die komende jaar, het sy gesê: “As afrigter beplan jy en werk jy met verskillende student-atlete wat elke seisoen na jou toe kom. My plan is om goeie werwing en ontwikkeling te verseker. Belangriker nog, ek wil ’n Maties-styl en speelwyse bou wat elke jaar verbeter en vervolmaak kan word, en ’n sterk grondslag lê sodat toekomstige Maties-netbalspelers daarby kan baat. My hoofdoel is om te wen, om elke jaar beter te word, podiumplekke te behaal en medaljes te wen. Die harde werk begin nou, maar dit gaan ook oor voorbereiding – sukses val nie sommer net in jou skoot nie, jy moet daarvoor werk.”

Petersen is bevoorreg om jare lank netbal te speel, wat haar gehelp het met die oorgang na afrigting. Op nasionale vlak het sy vir die o.21 Proteas en o.23 SA Uitnodigingspan gespeel. Sy was ook vir provinsiale spanne Southern Stings en Tornados in aksie.

Sy is ook bekend met die balans tussen akademie en sport. Petersen het die volgende kwalifikasies van Stellenbosch Universiteit: BA Sportwetenskap, PGCE en BEd Honneurs, en sy is tans besig om haar Meestersgraad in Sportwetenskap af te handel.

Haar afrigtingloopbaan het in 2016 op laerskoolvlak begin. In 2019 het sy besef sy het ’n opregte passie vir afrigting. Sy was vir ses jaar Hoër Meisieskool Bloemhof betrokke. Sy het vir vier jaar die skool se eerste span afgerig.

By Maties was sy afrigter van die volgende spanne: Junior Maties (hoofafrigter, 2021), Maties 2 (hoofafrigter, 2022) en die afgelope twee seisoene was sy hulp-afrigter van Maties se eerste span.

Die nuwe hoofafrigter sal ondersteun word deur ’n bestuursgroep wat insluit:

  • Jo Prins (Maties assistent-afrigter/Maties 2-afrigter)
  • Charmaine Baard (Maties Junior-afrigter)
  • Jared McArthur (Maties Mans-afrigter)
  • Llewellyn Morkel (Krag & Kondisioneringsafrigter)
  • Neda Isaacs (Fisioterapeut)

Sportbestuurder vir Netbal, Charlé Swart, het gesê: “Toe ek in 2014 by die klub begin het, was Sasha, Jo en Charmaine spelers wat vir die Suid-Afrikaanse o.21-gespeel het en pas by die Universiteit begin studeer het. Om hulle volgende jaar as afrigters te sien, maak my ’n trotse bestuurder en wys hoe Maties Netbal belê in die groei van student-atlete en ’n omgewing te skep waar hulle wil teruggee aan die klub. Ek is opgewonde om Sasha as hoofafrigter te verwelkom en sien uit daarna dat sy die wenkultuur na die klub terugbring.”

Senior Bestuurder van Hoë Prestasie, Keagan van Aarde, het gesê: “Ek is opgewonde om te sien wat Sasha kan bydra tot die ontwikkeling van ons student-atlete op en van die baan af, aangesien sy – as ’n voormalige student-atleet – ’n goeie begrip het van ons visie en missie by Maties Sport. Dit is spesiaal om te sien dat ons ’n 360-oomblik by Maties Netbal beleef, en ek hoop sy gebruik hierdie ervaring om voort te gaan om die voertuig van sport vir die volgende generasie student-atlete aan te dryf.”

Maties Sport wens Sasha alle voorspoed toe in haar nuwe posisie en sien uit na wat die toekoms vir Maties Netbal inhou.