Eens ’n Matie, altyd ’n Matie

Een van die dinge wat klubpresident Charl Cronjé trots maak, is die feit dat lewenslange erelidmaatskap van Maties Rugby – ’n klub en ’n spel wat hy glo sy lewe gevorm het – aan hom toegeken is.

In die sakewêreld is hy bekend as ’n transformerende en innoverende sakeleier; by Maties Rugby is hy bekend as ’n idealis en ’n toegewyde voormalige visepresident en huidige president; maar vir die legendariese Dok Craven was hy bekend as “Erdwurm” te danke aan sy vermoë om onder die aksie in te kom om die bal te kry.

“Ek het as ’n slot by die seniorspan aangesluit, maar Dok het gesê ek was te klein en te stadig, en daarom het hy my nommer 7 (flank) gemaak,” onthou Cronjé. “Ek werk steeds aan my spoed …”

Cronjé het grootgeword in Malmesbury (“Ek het lankal reeds my brei verloor,” sê hy), en het as kind daarvan gedroom om vir Maties te speel. Daarvoor moes hy by die Universiteit Stellenbosch inskryf. Nadat hy sy verpligte weermagdiens voltooi het, het hy ’n lening aangegaan en in 1980 na die Eikestad gekom waar hy in Eendrag-manskoshuis tuisgegaan het.

“Ek het nie omgegee wat ek studeer het nie. Ek moes net iets studeer en goed genoeg slaag sodat ek kon speel,” sê hy. “Rugby was my fokus. Ek is in my eerste jaar by die o.20-span ingesluit en het stralend vir die eerste keer in die Danie Craven-stadion uitgedraf.”

Hy is ook by die Westelike Provinsie se o.20-oefengroep ingesluit en het ook die geleentheid gehad om op Nuweland te speel. Cronjé het gelukkig sy eerstejaareksamens geslaag, en het in sy tweede jaar by Maties se seniorspan aangesluit, vir wie hy meer as 120 wedstryde gespeel het – ’n rekord wat hy gehou het totdat dit jare ná sy aftrede deur Louis Blom oortref is.

“Aan die einde van my derde jaar wou ek steeds as student kon speel, en daarom het ek wat ek as die maklikste nagraadse kursus beskou het, gekies – dit was tog net ’n manier om nog saam met die span te kon speel. Wie sou kon raai dat Bedryfsielkunde uiteindelik my (ander) passie sou word en my loopbaanpad sou vorm!”

Cronjé het drie jaar gelede as hoof- uitvoerende beampte (HUB) van Ackermans afgetree nadat hy die kleinhandelbesigheid dramaties getransformeer het. Hy dien nou op verskei rade as ’n nie-uitvoerende direkteur.

Terwyl hy ’n student was, het Cronjé ’n hegte verhouding met Dok Craven gehad, en hy beskou hom as sy grootste mentor. Te danke aan ’n beurs, kon hy in die woonstel langs die huidige rugbymuseum by die Jannie Marais-huis woon.

“Dok sou my na sy kantoor toe nooi waar ons oor rugby gesels het. Ander kere sou hy my in my woonstel besoek, waar ons my ma se beskuit geëet het en oor alles behalwe rugby gesels het. Hy het ’n doktorsgraad in sielkunde gehad, en die gesprekke was uiteenlopend en fassinerend.”

Nadat hy uiteindelik finaal gegradueer het, het Cronjé kies om as ’n niestudent vir Maties te speel – iets wat jy destyds kon doen, mits jy nie in intervarsity-kompetisies gespeel het nie – hoewel hy getroud was en in Bellville gewoon het.

“Dok het vir my gesê ek moet speel waar my hart was, en ek het by Maties gebly totdat ek by Bellville-rugbyklub aangesluit het, en na die Danie Craven-stadion teruggekeer om die wedstryd te wen!”

Maar “Eens ’n Matie, altyd ’n Matie”, en hy het nie net na Stellenbosch toe teruggekeer nie, maar ook na die klub om iets terug te gee.

As president is hy ’n sterk ondersteuner van die verlede, maar glo hy ook dat ’n mens moet fokus op innovasie en evolusie, wat noodsaaklik is vir die groei van enige organisasie.

“Maties Rugby is die mees aspirerende en inspirerende handelsmerk, met helde uit die verlede, die hede en die toekoms.”

Volgens hom het die klub het ’n goed gedefinieerde visie: om die beste studenterugbyklub in die wêreld te wees, wat ook bekend is vir akademiese uitnemendheid. Rugby het die vermoë om diverse mense te verenig, meen hy.

“Die Springbokke kan dit vir Suid-Afrika doen, en Maties Rugby kan dit vir Stellenbosch doen,” sê hy.

Oor die onderwerp van hoe die spel vir studente-atlete verander het, sê Cronjé dat sy kohort nooit sou kon byhou met die eise wat deesdae aan spelers gestel word nie.

“Ons het geoefen, maar dit was glad nie soos dit vandag is nie. Ons spelers word deesdae hard gedruk, hoofsaaklik omdat hulle nie ’n seisoen het nie. Daar is voorbereiding vir Varsitybeker, dan die kompetisie self, dan USSA en tussendeur nog die liga. Hulle kan ook nie akademies onder die radar vlieg nie. Daar word van studente-atlete verwag om op én weg van die veld af uit te blink.”

Cronjé, wat fiks bly deur bergfiets te ry en gholf te speel, beskou nie enigiemand as ’n ikoon nie.

“Ek leer by almal en kopieer niemand nie. As jy iemand kopieer, verloor jy jou outentisiteit. Ek glo in inklusiwiteit en deursigtigheid. Vra altyd ‘hoekom’, en leef voluit deur jou Godgegewe talente tot almal se voordeel toe te pas,” sê hy.