Nuwe hoofstuk by Maties Rugby vir Barry

Een van Maties Rugby se legendariese spelers is besig om sy status as legende uit te brei…dié slag buite die wit gekalkte lyne. 

Craig Barry is ’n voormalige Maties-kaptein en het as speler aan vyf Varsitybeker-toernooie deelgeneem, in 41 wedstryde gespeel en 16 drieë gedruk. Sy laaste toernooi was in 2018. Vanjaar het hy homself weer Maandagaande in die Danie Craven-stadion bevind. Dié keer as deel van die Maties Rugby-afrigtingspan.  

Met die Varsitybeker-reeks was sy rol die van agterlyn-afrigter en hy het ook gekyk na die span se planne op die aanval. Tans is hy die eerste span se hulpafrigter. 

“Kyk, dit was ’n anderse ervaring om nie as speler met die Varsitybeker-toernooi betrokke te wees. Die een groot les wat ek geleer het, is die belangrikheid van kommunikasie. Veral met hoe die boodskap aan spelers oorgedra word. Voorheen was ek die een wat die boodskap ontvang het en moes uitvoer. Nou moet ek die boodskap oordra. Dit is nogal ’n uitdagende taak,” vertel Barry. 

“Dit is uiters belangrik om ’n vertrouensbasis met die spelers op te bou. Jy moet uitvind hoe hulle dink. Nie net oor rugby nie, maar ook oor die lewe. Elke speler is anders.” 

Volgens Barry was hy nie seker of hy al met vanjaar se toernooi die geleentheid sou kry om deel van die afrigtingspan te wees nie. Hy het aanvanklik gedink al die rolle is reeds gevul.  

“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid wat ek kon kry om meer te leer. Aan die begin het ek net gekyk en ingeneem, maar mettertyd het ek meer verantwoordelikhede gekry en so het ek ervaring opgedoen en gegroei in my rol.” 

Ofskoon die veldtog nie volgens plan verloop het nie, was daar wel ’n hoogtepunt of twee vir Barry. 

“Vir my was dit lekker om te sien hoe ons planne maak deur die week en dit dan op die veld in die wedstryd uitgevoer word. Daar is min dinge so mooi soos ’n plan wat bymekaar kom!” 

Barry glo die feit dat hy nie te lank gelede nie nog vir Maties in aksie was, in sy guns tel. 

“Ek het vir Maties in die Varsitybeker-toernooi gespeel en die ouderdomsgaping met die spelers is darem nie té groot nie! Dit help my om verhoudings met die spelers te bou. Vir my is die uiteindelik doelwit nie net om die spelers op die speelveld te help verbeter nie, maar ook om hulle te help om beter mense in die wêreld daarbuite te wees…” 

Barry se rol is tans nog deeltyds, maar hy hoop om in die toekoms ’n meer permanente posisie te kry. 

“Ek wil graag meer verantwoordelikheid aanneem. Hopelik is die net die begin van nóg ’n lang pad saam met Maties.”