Barry gereed vir volgende hoofstuk by Maties

’n Kniebesering het nou wel sy loopbaan beëindig, maar dit gaan nie Maties Rugby se hulp-afrigter Craig Barry keer nie om sy droom vir ’n FNB Varsitybeker-sege na te jaag.

Hoewel Barry die Maroenmasjien met onderskeiding in drie Varsitybeker-eindstryde verteenwoordig het, was hy ongelukkig om nie aan die wenkant te wees nie.

In 2021 het die 31-jarige agterspeler ’n ernstige kniebesering opgedoen wat hom gedwing het om sy stewels op te hang. Hy het in 2022 met afrigting begin en het reeds sukses gesmaak met Maties wat verlede jaar die Westelike Provinsie Superliga-klubtitel gewen het.

“Ek is medies aangeraai om op te hou speel vir die langlewendheid van my knie,” vertel Barry.

“Die kraakbeen in my knie was ernstig beskadig. Met rugby wat ’n kontak sport is, sou dit net erger word. Die langtermyn gevolge sou verwoestend wees. Afrigting was altyd iets wat ek wou doen wanneer ek eendag ophou speel. Maar dit het ’n bietjie vroeër gekom as wat ek verwag het.”

Barry sê hy het altyd – selfs toe hy gespeel het – ’n groot belangstelling in afrigting gehad en het homself toegerus met die nodige kwalifikasies om ’n rugbyafrigter te word. Hy dink ook dit is tot sy voordeel dat hy onlangs nog gespeel het, omdat hy die spel vanuit ’n speler en afrigting se perspektief kan verstaan.

“Ek het ’n Wêreldrugby Vlak 2-afrigtingsertifikaat, die hoogste is Vlak 3 wat my eendag sal toelaat om ’n hoofafrigter te word. Om hier by Stellenbosch af te rig, is baie makliker omdat ek nie so lank gelede nie in ’n soortgelyke posisie as die spelers was. Hulle vind dit ook maklik om met my te kommunikeer omdat die spel nie soveel verander het sedert ek opgehou speel het.”

Barry glo dat ’n rugbyspeler moet studeer terwyl hy aan die Varsitybeker-toernooi deelneem, omdat baie spelers eers later ontwikkel en daar is ook die gevalle waar hulle vroeg in hul loopbaan ’n ernstige besering opdoen.

“Sommige spelers word nie reeds op skool raakgesien nie en word eers op ’n Maandagaand raakgesien terwyl hulle Varsitybeker speel. Ook, as rugby nie vir hulle as ’n beroep werk nie, kan hulle altyd terugval op hul studies en hul graad behaal, sowel as voortgaan met nagraadse studies.

“Ek kan met trots sê dat die sukses in my loopbaan toegeskryf kan word aan Maties Rugby en die geleenthede wat die Varsitybeker-toernooi my gegee het.”

Barry sê sy korttermyn doelwit is om te leer en te groei as ’n afrigter terwyl hy soveel as moontlik ervaring opdoen terwyl hy saam met Maties se hoofafrigter Kabamba Floors werk.

“Ek is steeds jonk en om deel te wees van iets so opwindend soos die Varsitybeker-toernooi is ’n massiewe voorreg. Ek wil uiteindelik net verbeter as ’n afrigter en ontwikkel om ’n organisasie soos Maties te lei. Kabamba is ’n afrigter wat weet wat om te doen. Hy is veral goed met mense. Hy weet hoe om met mense te praat en saam te werk, veral die jonger generasie kinders wat nog besig is om mans te word.”