Wêreldbekende Meiring gesels met afrigtersforum

Die Maties Sport se Hoë Prestasie-hoofafrigters het die geleentheid gehad om na die legendariese Suid-Afrikaanse swemafrigter, Rocco Meiring te luister by die sesde uitgawe van die Afrigtersforum vir 2023.  

Meiring is die afrigter van Tatjana Schoenmaker, Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer. Tatjana se oefenmaat, Kaylene Corbett, het sesde in dieselfde nommer gekom, wat beteken Meiring het twee van sy swemmers in ’n Olimpiese eindronde gehad. Dit is ’n ongelooflike prestasie vir ’n Suid-Afrikaanse afrigter. 

Meiring het insigte gedeel oor die sleutelbestanddele wat gelei het tot Tatjana se sukses by die Olimpiese Spele, hoe hy mislukkings as afrigter hanteer, en watter eienskappe hy dink noodsaaklik is vir sukses as afrigter. 

Hy het ook oor eerstejaarstudente-atlete gepraat en gesê: “Ek dink ons onderskat die spanning op eerstejaarstudente-atlete en die oorgang van hoërskool na universiteit; dit is ’n groot verandering in iemand se lewe met ’n groot hoeveelheid stres.” 

Oor afrigters se verwagtinge het hy gesê: “Vir eerstejaarstudente-atlete moet ons, as afrigters, die prestasie verwagtinge herevalueer en fokus op die student-atlete se gedrag en hul karakter. Vanaf die tweede jaar kan ons begin kyk vir klein suksesse wat momentum bou, en in die derde jaar en verder behoort ons die lewering van goeie vertonings konsekwent te verwag.” 

Hoofafrigter van Maties Atletiek, Maurice Fisher, het die interaksie insiggewend gevind. “Dit was wonderlik om by Rocco te leer oor hoe hy sleutelmerkers identifiseer wat die puik student-atleet presteerders van die goeie skei. Dit gaan nie net daaroor om die fisiese vermoëns te hê nie, maar ook oor die geestelike krag om reg te reageer op die vraag van ’n elite-student-atleet se opleiding en akademiese werklading.” 

Die Afrigtersforum is ’n maandelikse sessie wat deur alle Maties Sport HP-hoofafrigters bygewoon word en is ontwerp om ’n platform te skep vir die afrigters om met mekaar te skakel, maar ook om met hoogs ervare afrigters van alle fasette van die lewe te kommunikeer, hetsy dit sport of besigheid of politiek. Die Afrigtersforum vorm deel van die holistiese opleiding en ontwikkeling van die HP-hoofafrigters en word bestuur binne die PACER-program van die Hoë Prestasie-eenheid. 

Deur Grant van Velden