Mali inspireer die volgende generasie

Studente-atlete benodig ’n standvastige en gesonde ondersteuningstruktuur om te verseker dat hulle al die blokkies van akademie en sport merk.  

Dit is ’n sentiment wat deur baie top-atlete, wat as opkomende sterre hul akademie met hul soeke na hul eerste professionele kontrak gekombineer het, geëggo word. Met die koms van Varsity Sports- en USSA-toernooie het studente baie meer verwagtinge, maar die stres van sport én akademie kan swaar op studente-atlete rus. 

Maties-hokkiester Ongeziwe Mali loof die pogings van die hokkie-afrigters en haar spanmaats vir die skep van ’n soliede en gesonde ondersteuningstruktuur. Mali is tans ingeskryf by Fakulteit Opvoedkunde vir haar BA-graad. Voordat Mali aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, het sy Arbeidsterapie aan die James Madison Universiteit in Harrisonburg, Virginia in Amerika studeer. 

Ironies genoeg is Harrisonburg – soos Mali se tuisstad, Gqeberha – ook bekend as die Vriendelike Stad. Gebore in New Brighton, Gqeberha, het die 24-jarige veldhokkiespeler in Zwide grootgeword – dieselfde township as dié van die Springbok-kaptein, Siya Kolisi. Sy was ’n leerder in Summerwood Primêr en het aan Pearson High gematrikuleer. Mali speel ook binnenshuise hokkie, maar verkies veldhokkie. 

Sy was die jongste hokkiespeler – 18 jaar – wat Suid-Afrika by die 2018 Statebondspele in Australië verteenwoordig het. Sedert haar debuut het Mali al 22 wedstryde vir haar land gespeel. 

Sy spreek haar dankbaarheid uit teenoor haar ouers wat dit vir haar moontlik gemaak het om haar droom uit te leef. Dis nie ’n nuwigheid vir die voormalige Pearson High-leerder om die jongste lid van provinsiale en nasionale spanne te wees nie. Sy is gekies vir die o.19 Oostelike Provinsie krieketspan toe sy net 15 was. 

Mali gee erkenning aan haar ouers vir die grondslag wat hulle vir haar gelê het. Sy skryf haar deursettingsvermoë toe aan die inspirasie wat sy put uit die wete dat haar ouers baie gedoen het om te verseker sy kan presteer op en weg van die veld. 

“My ouers inspireer my die meeste, hulle het letterlik versperrings vir my afgebreek,” het ’n trotse Mali aan Maties Sport gesê. “Hulle het my sin vir denke uitgebrei wat my gehelp het om baie deure na my toekoms oop te maak. Die Statebondspele was vir my baie nuut en om deel van daardie span te wees, het vir my die wêreld beteken. 

“Ek het ’n onberispelike ondersteuningstruktuur. Ons is eerstens studente en ons afrigter Lenise Marais verstaan dit en is baie ondersteunend wanneer dit by ons akademie kom. Binne die hokkiespan beklemtoon ons die studente deel van studente-atlete. 

“Die Fakulteit Opvoedkunde help ons studente baie om die druk en spanning van student wees te navigeer, en om ’n student-atleet te wees dra by tot hierdie druk. Die ondersteuning van die fakulteit vir elke student is fenomenaal, en dit is nie net vir die studente-atlete in die fakulteit nie.” 

Met ’n blik na die mikro-gemeenskap wat binne die hokkie-opset bestaan, is Mali opgewonde om deel te wees van ’n stelsel wat sy beskryf as een van “buite hierdie wêreld”. Mali is gegrond in haar geloof en verhouding met God. Sy vind en put inspirasie en hoop uit haar geloof. 

’n Baie beskeie en nederige Mali het nie besef hoe groot haar debuut in 2018 op die jong ouderdom van 18 was totdat sy van Australië af teruggekeer het huis toe nie. 

“Om die jongste hokkiespeler in daardie groep te wees, het beteken dat ek mense by die huis geïnspireer het. Ek was ’n bewys van wat bereik kan word, maar ek het nie besef hoe groot dit was totdat ons teruggekeer het huis toe nie. Ek het regtig nie besef dit is so groot nie. 

“Hokkie is wonderlik, ek is mal daaroor, nie net omdat ek deel is van so ’n wonderlike Maties-span of omdat ons ’n magdom o.21- en nasionale spelers in ons span het nie, maar dit is die ondersteuning wat so ’n wonderlike eienskap van almal in die span is. Almal is daar om mekaar te ondersteun, maak nie saak hoe lank jy speel of op watter vlak jy gespeel het nie – dit is werklik ’n wonderlike opset om deel van te wees. 

“God is in die middel van alles, vir my. Gebed, lofprysing en aanbidding vorm ’n integrale deel van wie ek is. Ek is lief vir God en is werklik geseënd om in elke situasie wat ek myself bevind op hierdie verhouding te kan vertrou.” 

Mali verstaan die krag van ’n platform waar jy die volgende generasie kan inspireer.  

Dié Maties-ster weet dat harde werk vrugte afwerp en haar sukses op sowel as van die veld af is ’n bewys van hierdie eeue oue spreekwoord.  

“Hulle (die jonger geslag) kyk op na ons, hulle sien dat dit gedoen kan word, hulle sit in die harde werk, en hulle sien dat hulle dit ook kan doen. Hierdie jong kinders het iemand anders dit sien doen en dit plaas ’n geloof in hulle dat hulle dit ook kan doen. Dit was ek toe ek daarna gekyk het, waaruit ek inspirasie geput het. Dit kan met die regte ingesteldheid gedoen word. My grootste hoop is dat ek volgende generasie kan inspireer voor my tyd verby is.”