Proudfoot is Maties se nuwe konsultant-hoofafrigter

Matthew Proudfoot, die voormalige Springbok-voorspelerafrigter wat die 2019 Wêreldbeker-toernooi gewen het, het hom by Maties Rugby aangesluit.

Proudfoot se eerste uitdaging in Matieland is die 2023 FNB Varsitybeker-toernooi. Proudfoot het ’n omvangryke nasionale en internasionale afrigtersloopbaan wat in 2008 met die einste Varsitybeker-toernooi begin het.

“Ek het as ’n Maties- en Westelike Provinsie-ondersteuner grootgeword en daarom is dié geleentheid ’n groot voorreg. Ek het grootgeword in die era van Dok Craven en nadat ek Maties jare lank ondersteun het, knyp ek myself met die wete dat ek in Dok Craven se kantoor sit. Dit is werklik ’n hengse voorreg om deel te wees van ’n instelling met Stellenbosch se tradisie. Ek is baie ernstig oor die aanstelling en ek het baie om vir die spelers te bied. Ek gaan hulle my beste gee,” het Proudfoot gesê.

Drickus Hancke, hoof van Maties Rugby se program, het sy opgewondenheid met Proudfoot se aanstelling uitgespreek. Volgens Hancke sien almal betrokke by Maties Rugby daarna uit om saam met iemand van Proudfoot se kaliber te werk.

“Ons is baie opgewonde, Matt het baie ervaring wat hy met spelers en afrigters kan deel en dit sal die hele klub verbeter,” het Hancke gesê.

“Norman [Jordaan] se bedanking het ’n proses begin waarin ons gesoek het om te sien wat ons kan doen om die span die beste geleentheid vir ’n suksesvolle Varsitybeker-veldtog te gee.”

Boonop het Hancke enige twyfel uit die weg geruim wat onder Maties se getroue ondersteuners en algemene rugbyliefhebbers kan bestaan oor die tydsberekening van Proudfoot se aanstelling.

“Die bedanking kan dalk gesien word as in die middel van die voorseisoen, maar waar ons in ons kalender was, het Matt steeds baie invloed gehad op die beplanning en uitvoering. Ons sien almal daarna uit om saam met Matt te werk. Hy het dadelik ingepas en impak gemaak.”

Proudfoot het bygevoeg: “Ons is gefokus op ons eerste wedstryd teen UCT. Daar is nog nie juis in detail gekyk na die hele skedule nie. Ons fokus is een wedstryd op ’n slag en om die spelers vir elke unieke geleentheid en uitdaging voor te berei. Ons is nou in ’n uiters belangrike fase van ons voorbereiding. Die werkslading is hoog.”

Proudfoot, gebore en getoë in Potchefstroom (Noordwes), het aan Potchefstroom Hoërskool vir Seuns gematrikuleer en is daarna gekies vir die Luiperds in beide Curriebeker- en Vodacombeker-kompetisies. Die voormalige voorry het deur sy oupa aan vaderskant gekwalifiseer om Skotland op toetsvlak te verteenwoordig.

Beserings het Proudfoot se speeldae egter geknou en tot vroeë uittrede gelei, in 2003, ná slegs vier toetse vir Skotland. Dit het hom op ’n ander pad, die van afrigting geplaas. Hy was betrokke by die voorste spanne in wêreldrugby.

Proudfoot het sy loopbaan as afrigter by die Pukke (nou bekend as die NWU Arende) met die heel eerste FNB Varsitybeker-kompetisie begin. Ná sy suksesvolle ampstermyn by die Puk Rugbyinstituut het hy hom gedurende die 2008-seisoen by die Westelike Provinsie en die Stormers aangesluit.

“Ek het my afrigtingsloopbaan op universiteitsvlak begin en die rede hoekom ek dit geniet om studente af te rig, is omdat hulle nuuskierig is en wil leer, asook ’n intense aptyt het om te verbeter. As ’n afrigter is dit regtig lonend wanneer jy spelers het wat inkoop in die planne. Dit is vir my opwindend om sulke spelers af te rig.”

Proudfoot, wat op sy dag vir die Glasgow Warriors gespeel het, gee baie erkenning aan die Varsitybeker-toernooi as grondslag vir sy loopbaan as afrigter.

“Die universiteite verdien baie krediet dat hulle daardie groot sprong in 2008 geneem het en strukture in plek gestel het,” het Proudfoot in ’n onderhoud met www.varsitycupsa.co.za gesê.

“Ek dink die Varsitybeker-kompetisie is ’n fantastiese kompetisie, die feit dat jy voltydse studente het wat steeds op ’n baie hoë vlak aan sport deelneem, is regtig besonders. Dit is ’n voorreg om spanne soos Maties, wat deurgrond is met tradisie, in dié reeks te sien speel.”

Proudfoot het hom in 2016 by die Springbokke aangesluit ná ‘n termyn van agt jaar by die Westelike Provinsie en die Stormers. Hy was ook voor die Springbokke betrokke by die Japanse klub Kobelco Kobe Steelers as ’n hulp-afrigter gedurende die 2015/16-seisoen. Tydens sy tyd by die Westelike Provinsie en die Stormers het Proudfoot drie Suid-Afrikaanse Superrugby-konferensietitels gewen en twee Curriebeker-oorwinnings behaal.

As voorspeler-afrigter by die Westelike Provinsie en die Stormers het hy spelers soos Springbok-kaptein Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Frans Malherbe en Vincent Koch (almal was deel van die suksesvolle Springbok-groep wat die 2019 Rugby Wêreldbeker gewen het) , Nizaam Carr, en Scarra Ntubeni om ’n handjievol wêreldklas-spelers te noem, help ontwikkel.

Hancke is vol vertroue dat beide spelers en afrigters weet wat van hulle verwag word en goed toegerus is om elke uitdaging suksesvol aan te pak.

“Ons stel hoë standaarde by die klub, so enigiets anders as die wen van die kompetisie sal vir ons ’n teleurstelling wees. Ons glo egter ook sterk in die ontwikkeling van spelers en afrigters, ongeag die uitkoms, en ons wil hê hulle moet beter wees aan die einde van die seisoen.”

Maties skop hul FNB Varsitybeker-seisoen op 20 Februarie af in die Danie Craven-stadion teen FNB UCT Ikeys.