Goud vir Maties by USSA Waterpolo, 3×3 Basketbal

Die Maroen Masjien het aan nog ’n ronde van USSA se somer-toernooie deelgeneem en drie goue medaljes (mans- en vroue-waterpolo en mans-basketbal) en ’n bronsmedalje (tennis) gewen.

Daar is meegeding in ses sportkodes naamlik basketbal, waterpolo, tennis, krieket, sokker en skaak. Toernooie is reg oor die land gespeel en Maties het goed vertoon deur verskeie medaljes huis toe te bring.

Maties se 5×5-mansbasketbalspan het net-net in die bronsmedalje-wedstryd teen TUT verloor. Dit was ’n uiters opwindende wedstryd wat 60-56 in die guns van TUT geëindig het. Die goue medalje is wel verower in die eindstryd van die 3×3 basketbal teen UJ. Lutho Skweyiya, Miguel Ferrao en Dineo Fanampe het almal MVP-toekennings in onderskeidelik die 3×3- en 5×5-kompetisies ontvang.

Maties Waterpolo het skoonskip in Durban gemaak. Dit was die soveelste jaar wat Maties dubbelgoud gewen het. Asof die USSA-titels nie genoeg was nie, het albei spanne onoorwonne gebly in hul tog na die goue medaljes.

Maties Tennis het NWU op sy tuisbaan aangevat en met ’n puik vertoning die bronsmedalje gewen. Die eindtelling was 8-4 in Maties se guns.

Maties Krieket se snelbouler Salmaan Ajam is as Bouler van die Toernooi aangewys nadat hy 12 paaltjies in die toernooi laat kantel het. Ajam en spanmaats Lehan Botha (kaptein) en George van Heerden is vir die USSA-toernooispan gekies. Maties het algeheel vyfde in die toernooi geëindig.

Weens moeilike weersomstandighede in Secunda het Maties se sokkerspan met ’n uitdagende wedstryd-skedule te doen gekry. Daar was gemengde welslae, maar Maties sal volgende jaar weer moet probeer om vir die Varsity-sokkertoernooi te kwalifiseer.

Maties Skaak het ’n uitdagende week gehad en kon nie ’n medalje verower nie.

Daar is baie om op voort te bou in 2023!

Deur Kimara Singh