Dis voorreg om vir Maties te speel, sê Welham

Stellenbosch Universiteit se BSc Honneurs-gegradueerde Angela Welham (22) is sedert haar eerste jaar in 2019 ’n ster in die Maties-hokkiespan. Dié energieke verdediger is ’n uitblinker sedert haar hoërskooldae by Herschel Girls High School in Kaapstad.

Sy is geen vreemdeling vir die verwagtinge van die hoë prestasie-omgewing van sport nie. Welham het die Westelike Provinsie op o.14- tot o.21-valke verteenwoordig. As o.18-spelers is sy as die waardevolste verdediger by die Nasionale o.18-toernooi aangewys.

Welham het Suid-Afrika onlangs by die eerste African Hockey5s Wêreldbeker-kwalifikasietoernooi in Egipte verteenwoordig. Suid-Afrika het die bronsmedalje gewen en daarmee vir die eerste FIH Hokkie5s Wêreldbeker-toernooi, wat in 2024 in Oman plaasvind, gekwalifiseer.

In 2022 het sy Suid-Afrika ook by die o.21 Junior Wêreldbeker verteenwoordig. In 2018 was sy vir die SA All-Stars Binnenshuise-hokkiespan gekies.

Benewens haar bekwaamheid op die speelveld, het Welham ook akademiese sukses geniet, ’n bewys van haar ywer en werksetiek wat sy sedert ‘n jong ouderdom aan die dag lê.

Sy skryf baie van die werksetiek toe aan die spansport-omgewing waarvan sy bevoorreg is om deel te wees, en beklemtoon spesifiek die positiewe uitwerking wat die Maties-hokkieklub op haar het.

“My betrokkenheid by ’n spansport het my lesse soos aanspreeklikheid, dissipline, veerkragtigheid, respek en spanwerk geleer,” het Welham aan Maties Sport gesê.

“Maties Hokkie het my geleenthede gebied om fisies (oefen en herstel), geestelik en emosioneel (werkswinkels) te groei. Voeg hierby dat ek ook blootgestel is aan video-analise en direksiegesprekke wat my intellektueel gestimuleer het. Die voordele van hierdie platforms het ongetwyfeld gehelp om my prestasies te verbeter, wat my in staat gestel het om beide individuele en spandoelwitte te bereik.”

Die Maties-hokkiester beaam en gee erkenning aan die ondersteuning wat sy en haar spanmaats ontvang wanneer dit by akademie kom. Welham verwys nie net na die ondersteuning van die afrigtingspan, en haar spanmaats nie, maar ook van die dosente, studente-adviseurs en professore binne die universiteit se akademiese ruimte.

“Maties as ’n organisasie verstaan [dat] ’n speler se graad voorkeur geniet bo sport. Met hierdie einste oortuiging verstaan my afrigter, Lenise Marais, wanneer die spelers se akademie geprioritiseer moet word.

“Hierdie ondersteuning het my in staat gestel om te fokus en sukses te behaal in my studies wanneer akademiese tye veeleisend was, sonder dat dit my spel geaffekteer het. Verder is Stellenbosch ’n gesogte universiteit met ’n uitstekende onderrigstelsel, lesings en studieleiers. Die opvoeders verstaan my toewyding aan sport en saam vind ons ’n balans vir my om my opdragte en toetse ens. te voltooi, terwyl ek weg is vir hokkie.”

Welham se tesistitel was “Investigating the Verlorenvlei’s Recovery Using Stable Isotopes & Hydrochemistry”. Sy het ’n groot liefde vir die omgewing en natuur. Daarmee saam het sy ’n begeerte om dit te verstaan. Daarom het sy besluit om haar in hierdie wetenskaplike dissipline toe te pas.

“Die passie vir die omgewing en klimaat het my daartoe gelei om ’n BSc in Aardwetenskappe vir my voorgraads- en honneurs-graad te studeer.”

Maties Hokkie se ondersteuners sal verheug wees om te hoor dat Welham vir ten minste nog twee jaar vir die Maroen Masjien gaan speel aangesien sy haar studies voortsit om haar Meestersgraad te voltooi.

“Ek glo die lewe is ’n voortdurende reis om te leer,” het sy bygevoeg.

“Daarom, om my kennis en passie vir die omgewing uit te brei, gaan ek my Meestersgraad in BSc Aardwetenskappe aan die Stellenbosch Universiteit doen. Ter self der tyd kan ek my passie om hokkie te speel by Maties nog twee jaar voortsit. Ek is nog nie gereed om hierdie hoofstuk af te sluit nie.”