Proudfoot skop Maties Sport se 2023-afrigtersforum af

Maties Sport se Hoë Prestasie-hoofafrigters het hul afrigtingsontwikkelingsprogram vir 2023 met niemand anders nie as Maties Rugby se konsultant-hoofafrigter, Matthew Proudfoot, afgeskop. 

“Die Afrigtersforum is ’n platform vir ons HP-hoofafrigters om nie net met hoogs ervare afrigters van alle fasette van die lewe te skakel nie, hetsy dit sport of besigheid of politiek is, maar ook om kontak te maak met mekaar as ’n Maties Sport-afrigtingsgroep,” sê Grant van Velden, Hoë Prestasie-hoof. 

“Dit is ’n besonderse voorreg om iemand van Matt se kaliber te kry om sy insigte, kennis en raad met ons te deel. Die geleentheid om Matt te kry om met ons te gesels as deel van die familie, is iets wat ons met albei hande moes aangryp.” 

Proudfoot het sy afrigtingsfilosofie gedeel, hoe hy in Januarie 2023 die rol van konsultant-hoofafrigter by Maties Rugby betree het, en die beste manier hoe om vertrouensverhoudings met spelers te bou. 

Maties Netbal se hoofafrigter, Zanele Mdodana, het van die Afrigtersforum weggestap met nuwe insigte wat haar sal help om haar afrigting en die Maties Netbal-program te verbeter. “Daar was soveel lesse wat Matt in afrigtersforumsessie gedeel het. Daar is baie wat ek as afrigter nog moet leer. Daar is verskillende vlakke aan afrigting. Matt het tereg opgemerk dat om spelers af te rig, is om spelers te mentor.” 

As hoofafrigter praat jy laaste. Jy moet jou hulp-afrigters bemagtig in hul rolle. Die afrigter se optrede is ook belangrik, Dié is van die gedagtes wat afrigters neer geskryf het. “Spelers sal altyd die standaard op die veld/baan weerspieël wat hulle op die oefenveld sien,” sê Mdodana. 

Maties Krieket se hoofafrigter, Ryan Bailey, het gesê die sessie was ’n goeie begin vir die 2023-afrigtingsontwikkelingsprogram en sien uit na die toekomstige sessies wat vir die Afrigtersforum beplan word. Volgens Bailey was die sessie baie leersaam en gedoen op ’n vlak waarmee afrigters kan vereenselwig.  

Enkele van die sleutelpunte wat Bailey wegneem, sluit in: 

  • Skep ’n natuurlike en ontspanne omgewing wanneer jy met spelers vergader (eerder stap in buitelug en nie met ‘n tafel tussen ons nie); 
  • Kort kragtige besprekings wanneer jy jou punt probeer maak. Ons het net 30-45 sekondes om ’n impak te maak; 
  • Gebruik prente en diagramme om die wedstrydplan oor te dra; en 
  • Wat na-wedstryd teleurstellings betref: In plaas daarvan om alles uit te laat en gefrustreerd te raak, stel eerder planne in plek om die swak prestasie teë te werk om die span se aandag te trek. 

Van Velden is opgewonde oor die afrigtersforums wat vir 2023 beplan word.  

“Ons het ’n paar uiters gerespekteerde afrigters wat gereed staan om deel te wees van ons afrigtersforums vir die jaar en ek kan nie wag nie om hul stories te hoor en die groei in ons Maties Sport HP-hoofafrigters te sien in die komende jaar.” 

Deur Grant van Velden