Maties se sokkerplan lewer resultate

Maties sokkerspan se plek in die topvyf van die liga vir die 2022/23-seisoen is ’n aanduiding dat die plan wat Desmond Crowie (hoofafrigter) en kie volg, die regte een is. 

Maties speel in die ABC Motsepe-liga (voorheen bekend as die Vodacom-liga) saam met spanne soos die voormalige PSL-span Santos FC, onlangse Bayhillbeker-wenners, Grassy Park United FC, Ikapa Sporting FC en Cape Town Spurs FC. 

Die ABC Motsepe-liga is Suid-Afrika se algehele derde liga. ’n Totaal van 144 spanne is landwyd deel van die liga, wat in nege streke verdeel is met 16 spanne in elke streek. Die wenners van elke provinsiale afdeling kwalifiseer vir die promosie-uitspeelwedstryde. Hierdie 16 spanne word verder in twee strome verdeel – agt spanne per stroom – waar die twee seëvierende klubs bevordering kry na die Nasionale Eerste Divisie (NFD). 

“Dit is ons tweede seisoen in die ABC Motsepe-liga. Dié seisoen se vyfde plek is ons beste vertoning sedert ons bevordering,” sê Crowie.  

“Ek is sedert 2017 ’n afrigter by die klub, en op toe het ons in die SAB [Suid-Afrikaanse Brouerye] 3de Divisie Wynland-streekliga gespeel.” 

Die goeie werk wat Crowie en sy span met elke speler gedoen het, spreek boekdele. Crowie, wat ses seisoene gelede by Maties Sokker aangesluit het, kom uit ’n baie bekende sokkerfamilie. Hy is die tweede jongste van vyf broers, wat almal al sokker gespeel het. Sy ouer broer, Duncan is die huidige Suid-Afrikaanse o.17 – Amajimbos – afrigter. 

Crowie vind dit nodig om elke seisoen met ’n noukeurige plan te begin. Maties se goeie posisie aan die einde van die 2022/23-seisoen getuig van die suksesvolle uitvoering en implementering van hierdie planne. 

“Om in die boonste helfte van die finale puntestand te eindig wys vordering. Dit wys die Maties-sokkerklub – bestuur en spelers – beweeg in die regte rigting. Dit is ’n bevestiging vir die plan van eenvormigheid waarop ons besluit het. Dit sou makliker gewees het om die hele groep te verander en nuwe spelers te werf, maar as ’n klub het ons besluit om voort te bou op die vorige seisoen. Dit wys ook dat die sokkerprogram by die universiteit gesond is.” 

Maties Sokker se sportbestuurder Ellroy Smith het die belangrikheid van hierdie posisie vir die klub as geheel verduidelik.  

“Om dié seisoen vyfde te eindig nadat ons verlede seisoen moes baklei om relegasie te vermy, is baie goeie vordering. Voor die aanvang van die seisoen het ons die doelwit gestel om in die middel van die punteleer te eindig. Dit was baie belangrik om ons status in die liga te behou. Dit is ’n deurslaggewende komponent in ons werwingsbenadering vir ons USSA-span. Ons hoofdoelwit is en sal altyd wees om vir die Varsity Sports-sokkertoernooi te kwalifiseer. Een van ons strategiese doelwitte is om studente-atlete te ondersteun met die lewering van ’n wêreldklas holistiese hoë prestasie-program,” het Smith verduidelik.  

Met die verloop van ’n seisoen sal daar altyd uitdagings wees. Smith, wat ook die hoofsekretaris van die USSA Sokker is, het op die belangrikheid van ondersteuning gewys.  

“Ons is deel van Maties Sport – die Maroenmasjien – en die Universiteit Stellenbosch. Daar is standaarde om aan te voldoen en dit is belangrik. Een van ons grootste uitdagings, is finansiële volhoubaarheid. Baie spanne bestee groot bedrae geld om vir die Varsity-sokkertoernooi te kwalifiseer. Ons het spelers verloor, maar diegene wat lojaal was en geglo het waarvoor die klub staan, het ten spyte van groter finansiële gewin elders hier gebly. Ons is dankbaar vir die ondersteuning van ons senior bestuur wat altyd na maniere kyk om die situasie reg te stel.” 

Smith voeg by: “Ons wil graag sien dat ons studente-atlete hul akademiese programme suksesvol voltooi, want dit is uiteindelik wat ons met ons studente-atlete wil bereik. Dit sal wys dat ons ’n suksesvolle program bedryf waar ons studente-atlete inderdaad holisties ontwikkel word.”