Stellenbosch aan die voorpunt van navorsing

Die Sentrum vir Sportleierskap (SSL) en die nuutgestigte Suid-Afrikaanse Sentrum vir Olimpiese Studies en Sosiale Impak (SASOSSI) by Maties Sport het hul navorsingsuitsette voortgesit tydens die 13de Afrika Spele wat vroeër vanjaar plaasgevind het. Die fokus van die navorsing was lewe ná sport en die stryd teen opkikkers, twee belangrike onderwerpe binne die huidige sportbedryf. Lees meer in-diepte besonderhede oor die navorsing hieronder:

Die Sentrum vir Sportleierskap en SACOSSI doen navorsing tydens die 2024 Afrika Spele – Lewe ná Sport

Met die momentum van navorsing gedoen tydens die Wêreldbeker-netbaltoernooi in 2023, het die Sentrum vir Sportleierskap en SASOSSI hul kragte saamgesnoer en ’n voorstel ontwikkel om Lewe Ná Sport te ondersoek tydens die 13de Afrika Spele in Ghana (8-23 Maart 2024). In samewerking met kollegas van die Universiteit van Ghana (UG) – Dr. Bella Bello Bitugu en Dr. Austin Luguterah – het die twee sentrums etiese klaring verkry en die samewerking van die twee plaaslike akademici en sewe studente van die Universiteit van Ghana se Departement Liggaamlike Opvoeding en Sportstudies verkry om te help met logistiek en data-insameling.

Dr. Nana Adom-Aboagye en Professor Cora Burnett het na Ghana gereis en die studente op die eerste dag opgelei om die vraelyste te laat voltooi. Die studente het uitmuntend gevaar en meer as 800 vraelyste is voltooi deur atlete en spanbestuur van 41 Afrikalande. Die UG-studente het onverpoos gewerk by oefenplekke, in koshuiskamers, in oop areas en enige plek waar hulle atlete, afrigters of administrateurs kon vind wat bereid was om aan die navorsing deel te neem. Dr. Adom-Aboagye en Prof. Burnett het net meer as 50 persoonlike onderhoude met verteenwoordigers van 14 Afrikalande gevoer.

Hierdie navorsing bied ’n skatkis van kennis wat ontsluit kan word en ’n betekenisvolle verskil kan maak in die begrip van die aspirasies en langtermynbeplanning van Afrika-atlete. Dit sal belangrike rolspelers, veral universiteite, in staat stel om betekenisvolle en impakvolle opvoedings- en opleidingskursusse en kapasiteitsbougeleenthede aan te bied. Die doel is om die metodologie aan te pas vir verdere navorsing in ander streke van Afrika, Suid-Afrika, en vir huidige en toekomstige studentatlete in Suid-Afrika.

SAKOSSI en UJ Sentrum vir Olimpiese Studies werk saam – Teen-Opkikkers: Opvoeding vir Afrika Atlete by Afrika Spele

Olimpiese Studiesentrums word wêreldwyd aangemoedig om saam te werk en hul agendas te verryk deur innoverende en betekenisvolle navorsing aan te pak. Die 13de Afrika Spele in Ghana gedurende Maart 2024 het ’n geleentheid gebied vir SAKOSSI en die UJ Sentrum vir Olimpiese Studies om kragte saam te span en ’n studie te doen oor teen-opkikker opvoeding vir Afrika atlete. Prof. Burnett en Prof. Heather Morris-Eyton het saamgewerk en onderhoude gevoer tydens die Spele, terwyl hulle studente van die Universiteit van Ghana se Departement Liggaamlike Opvoeding en Sportstudies betrek het om te help met die persoonlike voltooiing van vraelyste.

’n Wêreldbekende navorser, Andrea Petroczi, wat produktief is in hierdie veld en adviseur is vir die Wêreldagentskap teen Opkikkers (WADA), het sommige van die jongste metodologieë gedeel. Hierdie metodologieë is getoets en sal aangepas word vir die Afrika-konteks.

SAKOSSI is toegewyd om voort te gaan met samewerking met akademici in verskillende velde om die impak van navorsing te optimaliseer en instellings, praktyk-gemeenskappe en individue te bevoordeel oor sake wat saak maak.