Maties Sport se spanne het goed gevaar by die onlangse Universiteite Sport Suid-Afrika (USSA) toernooie en het medaljes in verskeie sportkodes verower. Die Maroenmasjien het die 15man-rugby titel vir ’n derde keer agtereenvolgens gewen, daar was ook silwermedaljes in onder andere in hokkie en netbal. Verskeie bronsmedaljes het ook hul pad na Matieland gevind.
Rugby
Mans
Maties het in die USSA-eindstryd – wat deur die Rhodes Universiteit in Makhanda aangebied is – teen die Universiteit van die Vrystaat (UV) te staan gekom. In die aanloop tot die eindstryd het hulle met UWK (kwarteindstryd) en Wits (halfeindstryd) afgereken.
Maties het gespeel vir ’n driekuns aan USSA-titels. Met halftyd was die telling 32-0 in die guns van Maties, maar die Vrystaters het terugbaklei in die tweede 40 minute en verhoed dat Maties enige punte aanteken. Kabamba Floors (afrigter) se manne het egter genoeg gedoen om die sege te verseker. Die eindtelling was 32-19. Dit was Floors se tweede USSA-sege agtereenvolgens as Maties-breier.
Vroue
In die eerste USSA 10s-toernooi was Maties vasbeslote om die eindstryd te haal.
In die groepwedstryde het Maties met SPU en Varsity Kollege afgereken net om in die kwarteindronde wéér teen Varsity Kollege te staan te kom. Maties se vroue was weer baas en hulle het met 31-0 gewen. Maties se teenstander in die halfeindronde was die Universiteit van Johannesburg, wat as die uiteindelike kampioen gekroon is.
Maties het om teen UP-Tuks te staan gekom vir die bronsmedalje en het die Pretorianers met 19-7 geklop om die toernooi op ’n wen noot af te sluit.
Hokkie
Die mans- en vrouehokkiespanne het onderskeidelik in die eindstryd en die uitspeelwedstryd vir die derde plek gespeel. Aksie het by die Wits-astro plaasgevind.
Mans
Vir die derde agtereenvolgende jaar het Maties teen UP-Tuks in die USSA-eindstryd te staan gekom. Maties was gemotiveerd om sy onoorwonne rekord op pad na die eindstryd te behou en die titel terug na Coetzenburg te bring na die teleurstelling van verlede jaar. Maties was vinnig uit die blokke met twee doele deur Ross Montgomery en met halftyd was Maties met 2-1 voor. Tuks het egter sy spelpeil gelig en sake gou gelykop gemaak.
Dit was net die begin van die Pretorianers se aanslag. Nóg twee vinnige doele in die beslissende kwart het Maties op die agtervoet geplaas. Tuks was met 6-4 baas en Maties moes weer tevrede wees met die silwermedalje. As troosprys is Daniel Dillon is as doelwagter van die toernooi aangewys.
Vroue
Maties het teen die gasheer, Wits te staan gekom in die stryd om die bronsmedalje. Dit was nadat Maties teen UP-Tuks vasgeval het in die halfeindronde. Danksy doele deur Daniella Mendes de Oliveira en Caylin Maree het Maties vinnig die voorsprong geneem en met twee klassieke velddoele deur Coreen Matthee was die besoekers met 5-0 baas om die bronsmedalje te wen. Matthee was die voorste doelskieter van die toernooi danksy sewe doele wat ’n driekuns in een wedstryd ingesluit het.
Netbal
Maties het teen die Kovsies te staan gekom in uitspeelstryd om die derde plek. Maties het teen die gasheer (Universiteit van Johannesburg) in die halfeindronde vasgeval. Kovsies het met rustyd met 26-16 voorgeloop. Maties het terugbaklei en dit was ’n spannende wedstryd wat Maties uiteindelik met 39-38 gewen het vir die bronsmedalje.
Maties het ook in die eindstryd van Afdeling B gespeel. Die beslissende wedstryd was teen NWU Arende, wat met 42-33 geseëvier het. Dit was egter die eerste keer wat Maties se tweede span ’n silwermedalje verower het.
“Dit was nie ’n maklike pad om hier te kom nie, maar ons het geglo in ons doelwitte en dit wedstryd vir wedstryd geneem. Aan die einde van die dag gaan dit oor die ontwikkeling van die spelers, want hulle is die toekoms van Maties-netbal,” het voormalige Maties-netbalspeler en nou hoofafrigter van Maties 2, Jo Prins, gesê.
Muurbal
Die USSA-muurbaltoernooi het in Parkview en Wanderers in Johannesburg plaasgevind. Maties het vier medaljes gewen in die individuele afdeling: Nathan van der Westhuyzen (brons) in Afdeling A vir mans, Keagan Waugh het Afdeling B vir mans gewen, Michael Cresswell (silwer) in Afdeling C en in die vroue-kompetisie het Kayleigh Els, Afdeling B gewen. In die span-afdelings het Maties die halfeindronde in beide die Afdeling A en B gehaal. Maties se B-span het die eindstryd gehaal, maar het net-net die goud misgeloop en daarmee die silwermedalje huis toe gebring, saam met Maties A se bronsmedalje.
Pluimbal
Die USSA-pluimbaltoernooi het in John Tyres-saal in Kaapstad plaasgevind en Maties het ’n dapper vertoning by die kompetisie gelewer. Maties het ’n silwermedalje verower nadat hulle met 4-6 teen die NWU Arende in die eindstryd van die spankompetisie verloor het. Daarbenewens het Maties bronsmedaljes in die dubbelspel vir mans en gemengde dubbelspel gewen. Daar was ook ’n silwermedalje vir mans in die enkelspel-toernooi.