Sokkerlegende besoek Matieland

Maties Sokker het ’n fondsinsamelingsgeleentheid aangebied met voormalige Bafana Bafana-sokkerspeler Shaun Bartlett as gasspreker. Hy het sy ervaringe as speler en afrigter gedeel.

Dié Suid-Afrikaanse sportlegende het ’n roemryke loopbaan as speler én as afrigter. Hy het in 1992 sy loopbaan by Cape Town Spurs begin. Later het hy vir van die grootste klubs in Europa gespeel, insluitend Feyenoord en Charlton Athletic gespeel. In 2002 het hy na Suid-Afrika teruggekeer om vir die nasionale span te speel. Sy laaste jaar as beroepspeler was in 2004. Sedert sy speeldae het hy Ajax Cape Town en meer onlangs Cape Town Spurs suksesvol afgerig.

Met Bartlett as hoofafrigter is beide AmaZulu F.C. en Cape Town Spurs na die PSL (Premier sokkerliga) bevorder. Met die verloop van jare het hy verskeie toekennings ontvang. Hy was onder andere die PSL se Afrigter van die Jaar. Hy het verskeie spanne tot plaaslike en internasionale sukses gelei.

Ilhaam Groenew[ald, Hoofdirekteur van Maties Sport, het gesê: “Die doel van die geleentheid is nie net om fondse in te samel nie, maar ook om ’n ruimte te skep waar ons sokker- en sportgemeenskappe bymekaar kan kom en betekenisvolle vennootskappe kan smee. Dit sal ons in staat stel om ons sokkerprogram te versterk. Dit is in ooreenstemming met ons Maties Sport visie ‘Om ’n rigtinggewende universiteit te wees wat bydrae tot ’n holistiese en diverse ervaring danksy sport’.”

Maties Sokker het sowat 800 klublede. Dit is meer as netbal, hokkie en rugby volgens Maties Sport se onlangse opgedateerde lidmaatskap data.

Volgens Lesley van Rooi, Maties-sokkerklub se voorsitter, was dit ’n opwindende geleentheid om iemand van Bartlett se gehalte as gasspreker te hê. “Shaun is ’n voorbeeld en inspirasie vir baie Suid-Afrikaners. Dit is ’n eer vir ons klub en universiteit om hom as spreker en sportman te verwelkom.”

Enkele belangrike insigte van Bartlett se gesprek, het ingesluit:

Vir Bartlett is dit belangrik dat jy jou doelwitte neerskryf sodat jy dit altyd kan raaksien. Volgens Bartlett was sy doelwitte as 10-jarige om ’n professionele sokkerspeler te word, op TV te speel en om in Engeland te speel.

Hy het al drie doelwitte bereik. Dit dien as ’n bewys van sy toewyding

As afrigter is Bartlett se raad aan jongelinge om seker te maak jy is beter vandag as wat jy gister was. “Jou poging is nie ’n opoffering nie, maar ’n belegging om te vorder en jou doelwitte te bereik.”

Bartlett is ’n inspirasie op en weg van die veld. Die 51-jarige het steeds drome om Bafana Bafana en in Europa af te rig, maar hoop ook om ’n ander plaaslike span met bevordering na die PSL te help. Die grootste les uit die ster se loopbaan is om nooit op te hou droom nie en ’n visie te hê.

“Dit was ’n eer en voorreg om ’n Suid-Afrikaanse ikoon soos Shaun Bartlett hier te hê. Ek glo almal hier is geïnspireer deur sy verhaal en kennis wat met ons gedeel is. ’n Groot dankie aan Shaun vir ’n insiggewende oggend en betrokkenheid met die plaaslike studente en afrigters van die Wynlande,” het Ellroy Smith, Sportbstuurder, gesê.

Deur Kimara Singh