Die onlangse o.21-nasionale toernooi het nie net die hokkie-talent binne die Westelike Provinsie (WP) ten toon gestel nie, maar ook die groot invloed van die Universiteit Stellenbosch se hokkieprogram beklemtoon.
Maties se mansafrigter Bevin Bennett – ook die nasionale o.21-hulpafrigter – en Maties-sterre Caylin Maree en Daniel Neuhoff deel hul perspektief oor die belangrikheid van hierdie toernooie en Maties Hokkie se rol.
Bevin Bennett: Die vorming van toekomstige sterre
Afrigter Bevin Bennett het by die onlangse nasionale toernooi op sy nasionale pligte gefokus. Hy beklemtoon die holistiese ontwikkeling van spelers wat geestelike, fisieke, tegniese en taktiese groei integreer.
“Ons bou voort op die ontwikkeling van spelers en gebruik lesse van dié toernooi om vir toekomstige geleenthede voor te berei. Hierdie benadering verseker dat Maties-spelers nie net in universiteitsligas uitblink nie, maar ook op nasionale vlak presteer.”
Bennett onderstreep verder die groot impak wat verskeie Matie-spelers op verskillende vlakke gemaak het.
“Josh de Klerk, Ross Montgomery, Casey Keevy, Michael Cowen, Viwe Mbata en Mpumi Mathebe het almal positief tot hul onderskeie spanne se vertonings bygedra. Hulle het die diepte van talent wat by Maties ontwikkel word, gewys. Die blootstelling aan hoër kompetisievlakke soos die nasionale o.21-toernooi is van onskatbare waarde, aangesien dit spelers in staat stel om teen die beste in die land mee te ding,” voeg Bennett by. Hy beklemtoon die kritieke rol van hierdie toernooie in spelersontwikkeling.
Caylin Maree: Kaptein lei met vasberadenheid en deursettingsvermoë
Caylin Maree, kaptein van die WP A vroue-span, kyk met trots terug na die silwermedalje wat sy en haar spelers by die nasionale o.21-toernooi gewen het. Haar leierskap en die span se veerkragtigheid was duidelik in moeilike wedstryde, wat uiteindelik tot ’n plek in die eindstryd gelei het. “Dit was ongelooflik om so talentvolle span te lei en hul deursettingsvermoë in veral die halfeindstryd te gesien het.”
Met die Olimpiese Spele in sig, is Maree optimisties oor die voorbereiding en beklemtoon sy die belangrikheid van geestelike sterkheid en aanpasbaarheid in toernooie soos die.
“Die Olimpiese groep was vir vyf weke weg en het vriendskaplike wedstryde teen China en Indië gespeel. Om in ’n toernooi te speel, vereis ’n groot geestelike aanpassing, en dit is belangrik om spelers geestelik aktief en betrokke te hou. Hierdie geestelike krag, wat deur streng oefening en kompeterende spel ontwikkel word, is kenmerkend van Maties Hokkie se etos.”
Daniel Neuhoff: Erfenis van uitnemendheid
Vir Daniel Neuhoff is die teleurstelling om nie goud by die toernooi te wen nie, verminder deur die voorreg om die Westelike Provinsie te verteenwoordig. Hy beskou die ervaring en lesse as waardevol vir toekomstige kompetisies en beklemtoon die hoë standaarde wat by Maties gehandhaaf word, ongeag nasionale betrokkenheid.
“Gegewe die talent in die Westelike Provinsie o.21-groep was dit uiters teleurstellend om nie met ’n goue medalje weg te stap nie. Daar is baie interne kompetisie in die groep wat verseker dat dié wat vir nasionale keuring voorberei, gereeld op ’n hoë vlak meeding. Hierdie interne mededingendheid is noodsaaklik om ’n pyplyn van topklas talent gereed te hou vir nasionale en internasionale uitdagings.”
’n Onvergeetlike oomblik vir Neuhoff was Alex Blow se gelykmakende doel in die groepfase, wat die span se veggees ten toon gestel het. “Alex Blow se gelykmaker teen Noordelikes het verseker dat ons vir die halfeindstryd kwalifiseer.”
Toernooie se rol in ontwikkeling van talent
Sowel Maree as Neuhoff is eens oor die belangrikheid van die o.21-toernooi in die ontwikkeling van hokkie-talent.
Maree meen dat hierdie toernooie blootstelling en geleenthede vir groei bied. “Om aan ’n nasionale toernooi deel te neem en saam met verskillende spelers te speel, laat jou toe om te groei en aan te pas by verskillende omstandighede en spelers.”
Neuhoff beklemtoon ook die selfvertroue wat dit vir jonger spelers gee. “Die toernooi laat jonger spelers toe om saam met en teen spelers van ’n soortgelyke ouderdom te speel.”
Deur die insigte van Bennett, Maree en Neuhoff ontstaan ’n beeld van ’n professionele stelsel waar talent deur middel van mededingende spel en uitgebreide ontwikkelingsprogramme gekweek word.
Die Maties-hokkieprogram, met sy klem op uitnemendheid en veerkragtigheid, bly ’n sleutelbydraer tot die sukses van WP-spanne en die breër Suid-Afrikaanse hokkie-landskap.
Met die Parys 2024 Olimpiese Spele om die draai, kan die rol en impak van nasionale toernooie soos die in die voorbereiding en ontwikkeling van Suid-Afrikaanse spelers nie onderskat word nie. Met al die Maties-spelers wat oor die jare Suid-Afrika verteenwoordig het, getuig die Stellenbosch Universiteit se hokkieprogram van ’n blywende erfenis van toewyding, harde werk en strategiese ontwikkeling.