Stellenbosch-sokkerklub deel van die 2024 Sasol-vroueliga

Die Stellenbosch-sokkerklub kondig met trots aan dat dié klub aan die 2024 Sasol-vroueliga gaan deelneem.

Die Stellenbosch-sokkerklub het die vroue-span van die Universiteit Stellenbosch as franchise bekom. As deel van die ooreenkoms het dié twee entiteite ’n unieke samewerking gevorm om die ontwikkeling van vroue sokker in Stellenbosch en die breër Kaapse Wynland-gemeenskap te bevorder.

“Kern tot ons klub se visie is om ’n volhoubare sokkerpad vir die streek te bou en ’n fasiliteerder vir maatskaplike opheffing te wees,” sê Rob Benadie, uitvoerende hoof van die Stellenbosch-sokkerklub.

“Ons wil hê dat die vroue in ons opvangsgebied dieselfde geleenthede as mans moet hê om sokker op die hoogste vlakke in Suid-Afrika te speel en mee te ding. Die besluit om ’n vrouespan saam met die Universiteit Stellenbosch te vestig, is die jongste stap om daardie visie te verwesenlik, en ons is opgewonde om dit tot uitvoering te sien kom.

“Die klub bedank die Universiteit Stellenbosch vir die waardevolle rol in die vennootskap en vir hul gedeelde vertroue in die transformasievermoë van sport en die strewe na sportuitnemendheid. Deur kragte saam te snoer, hoop ons om ’n omgewing te skep waar Stellenbosch ’n tuiste vir vrouesokkerspelers in ons land sal word en ’n platform sal wees waar hulle op én weg van die speelveld kan floreer.”

Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur van Maties Sport aan die Universiteit Stellenbosch, bevestig die universiteit se verbintenis tot die bemagtiging van vroue deur sport: “Die vennootskap met die Stellenbosch-sokkerklub is ’n deurslaggewende oomblik in die bevordering van vrouesokker, met ’n pyplyn wat akademie en sport kombineer.

“Saam is ons daartoe verbind om ’n nalatenskap te bou waar elke speler wat by die klub aansluit, elke doel wat aangeteken word, en elke oomblik wat beleef word, ’n stap vorentoe in die rigting is van ’n meer inklusiewe en regverdige wêreld vir vroue en meisies in sokker.”

Die ervare hoofafrigter Nathan Peskin sal die Stellenbosch-sokkerklub se vrouespan te lei in hul eerste wedstryd hierdie naweek, wanneer hulle Badgers FC aanpak in die openingswedstryd van Afdeling B in die 2024 Sasolliga-seisoen.

Vir meer inligting en nuus oor die Stellenbosch-sokkerklub se vrouespan en ander klubaktiwiteite, besoek gerus die amptelike webwerf by www.stellenboschfc.com en volg die klub op alle vername sosiale media-platforms.

Meer oor Maties Sport is beskikbaar by www.sport.sun.ac.za en op sosiale media platforms Facebook, Instagram, en X.

Vir direkte mediavrae:

Liam Bekker

liam@stellenboschfc.com

078 472 479