FNB Maties-rugbyvroue wil hul oorheersing in universiteits-vrouerugby bevestig. Die verdedigings van hul FNB Varsitybeker is môre teen FNB UFH in Pretoria, waar die eindstryd plaasvind.
Maties se hoofafrigter, Johann Zeier, glo sy span – grotendeels bestaande uit ’n nuwe groep spelers – het goed presteer met die verloop van die seisoen.
“Die seisoen was tot dusver goed vir ons. Ons het wel uitdagings gehad, maar ons het dit reggekry om momentum te behou. Ons het baie hard gewerk om te kom waar ons nou is. Die span bestaan uit heelwat nuwe spelers hierdie jaar, maar elkeen van hulle het werklik opgestaan en my met hul vermoëns beïndruk. Hulle het al die uitdagings wat ons tydens die voorseisoen na hulle kant toe gegooi het, goed hanteer. Dit is ’n strawwe kompetisie, maar ek glo in ons voorbereiding.”
Pretoria is vir albei spanne in die eindstryd ’n wegwedstryd. Volgens Zeier sou dit lekker gewees het om die eindstryd in Stellenbosch te kon speel.
“Ons het bo-aan die punteleer geëindig en sou graag in ’n tuiseindstryd wou speel, maar waar die wedstryd plaasvind, is buite ons beheer. Dat die wedstryd in Pretoria is, verander niks aan ons doelwit nie. Ons voorbereiding is op koers, ons het ’n goeie week agter die rug, en die span sien uit na die laaste én beslissende wedstryd van die toernooi.”
Maties se kaptein, Liza Slabbert, het van hokkie na rugby oorgeskakel en is vasbeslote om hierdie jaar nie net vir haar spanmaats die beker te wen nie, maar ook vir haar suster Nina wat verlede jaar weens ’n besering nie deel van die seëvierende span was nie.
“Ek was nog altyd lief vir sport en die buitelewe. Ek het in hoërskool meestal hokkie gespeel, so dit het sin gemaak om op universiteit aan te hou speel. Ek het twee jaar lank hokkie gespeel voordat ek by Maties Rugby aangesluit het. Ons seisoen was meestal positief, buiten vir ’n paar beserings. Ons het baie tyd en moeite ingesit om te kom waar ons nou is. Ek is baie trots op my spanmaats en hoe ver elkeen van hulle gekom het.
“Ons het baie hard gewerk vir hierdie geleentheid. Al wat ek wil hê, is dat almal hul alles gee, die oomblik geniet en alles op die veld los – en dat niemand met enige spyt van die veld afstap nie.”
Deur Lehlogonolo Ditshego