Wiseman deel haar USSA-ervaringe

Met slegs sewe maande agter die rug as ’n intern by Maties Sport se Hoë Prestasie-eenheid het Brady Wiseman reeds ’n goue medalje gewen. 

Met die onlangse USSA-hokkietoernooi het Wiseman ’n beter blik gekry op wat dit alles behels om deel van die ondersteuningspersoneel van ’n span te wees. 

Wiseman het in 2021 haar ’n honneursgraad in Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Wiseman was deel van die Maties Hokkie-span. Sy het weens ’n besering die 2018-seisoen misgeloop, maar was weer in 2019 in aksie. Sy was die Maties-span se kaptein in haar finale jaar by die klub in 2021.  

“Deur die jare het ek baie uiteenlopende ervarings by Maties Sport en Hokkie gehad. Ek het begin as junior, toe word ek die kaptein en vanjaar was ek deel van die bestuurspan. Elke jaar was daar vir my ’n soort bevordering met die medaljes! Ek het met ’n bronsmedalje in 2019 begin, dit was silwer in 2021 en die goud het uiteindelik in 2022 gekom toe ek deel van die bestuurspan was.” 

Ofskoon sy graag as speler die goue medalje sou wou wen en dit met haar spanmaats deel, is sy dankbaar vir die geleenthede wat sy gekry het danksy sport. 

Wiseman en haar kollega Amy Appolis het Llewellyn Morkel, Maties Hokkie se hoof van krag en kondisionering, bygestaan. Hulle het verantwoordelikhede en take tussen hulle verdeel. Appolis was werksaam by die mans, Wiseman by die vroue en Morkel was in beheer van albei spanne. 

Dié Stellenbosse alum moet nog dit vir haar uitpluis of sy krag en kondisionering ten volle wil nastreef. “Ek moet nog sekermaak, ek dink dit is moeilik om uit die universiteit te kom nadat jy teorie studeer het en dan iets so prakties aan te pak waar jy presies moet weet wat jy doen. So, hierdie internskap was goed, want ek is besig om uit te vind waarvan ek hou en waarvan ek nie hou nie. 

“Ek begin agterkom dat ek dalk meer van die bestuur en administratiewe kant van sport hou. Met die GAP-projek moes ons baie administratiewe werk en logistiek doen, waar jy heeltyd onder druk was en jy moet resultate lewer. Ek het nogal daarvan gehou.” 

Die GAP-projek is ’n Statebond-program wat gefokus het op die ondersteuning en ontwikkeling van opkomende para-atlete en -afrigters. Die kamp het eweknieë in ’n holistiese benadering verbind om kennis op te doen deur gedeelde ervarings en spesialis sessies. Dit was aangebied deur Maties Sport in samewerking met Maties Sportwetenskap, in April 2022. 

Wiseman erken dat sy nie soveel waardering vir krag- en kondisioneringsafrigters gehad het toe sy ’n speler was nie. “Ek het aan Llewellyn gesê, die span het die hele toernooi sonder enige besering voltooi. 

Ek moes hom gelukwens. As voormalige speler besef ek hoe groot prestasie dit is, want ek weet hoe mens se lyf moeilikheid begin gee in so veeleisende toernooi.” 

Morkel en die afrigtingspan het Wiseman bygestaan en ondersteun met haar verantwoordelikhede wat die opwarmingsessies en hul oggendaktivering ingesluit het. 

“Ek het nie net die buitekant gestaan en kyk nie. Ek was betrokke en het verantwoordelikhede gehad. Spelers en bestuur het my vertrou. Die laataande, opwarmingsessies, herstelmasserings en slapelose nagte was die moeite werd, want die span het aan die einde die goue medalje gewen!”