Maties begin Varsitybeker-veldtog met nuwe afrigter

Die maroenmasjien het hul Varsitybeker-veldtog vanjaar onder leiding van ’n nuwe hoofafrigter afgeskop.

Norman Jordaan het by Drikus Hancke oorgeneem, wie se rol by Maties Rugby nou verander het na programhoof.

“Ek sien uit na die uitdaging om die hoofafrigter van Maties Rugby se senior span te wees en ek gaan my bes doen om my pligte uit te voer.”

Dit sal Jordaan se eerste seisoen in beheer wees en hy het sy verwagtinge vir die 2022-kompetisie soos volg uitgedruk: “Die spelers is opgewonde oor die feit dat die skedule vanjaar weer meer normaal sal wees en dat ondersteuners na die stadions kan terugkeer. Ons wil die beker wen, maar ons wil ook ons rugby geniet en die skares vermaak.”

Jordaan word bygestaan deur Kabamba Floors as assistentafrigter en die twee hoop om beter te vaar as verlede jaar. Hoewel die span in elke wedstryd baie hard gespeel het, het ’n nederlaag teen CUT hulle duur te staan gekom. Met ’n nuwe jaar en ’n skoon blaadjie, hoop Maties om ’n sesde titel in hierdie kompetisie te verower, ’n prestasie wat nog geen span kon vermag nie.

Volgens Hancke, die hoof van Maties se rugbyprogram, is Jordaan ’n goeie afrigter wat goed sal doen met die span.

“Hy werk al ’n rukkie met die span en het goeie ervaring, nie net as ’n afrigter nie, maar spesifiek met die Maties-span. Hy verstaan hoe dinge by Maties werk en ken die spelers. Ek dink dis ’n opwindende tyd vir die klub. Die herstrukturering het geleenthede vir groei teweeggebring, vir Norman en vir almal van ons by die klub,” het hy bygevoeg.

Ons wens afrigter Norman Jordaan en sy ondersteuningspan alles van die beste toe in die Varsitybeker-kompetisie.