Maties open moderne meerdoelfasiliteit op Tygerberg-kampus

Maties Sport het die opgradering van sportfasiliteite op die Tygerberg-kampus geprioritiseer in ooreenstemming met ons strategiese doelwit om toegang tot ’n diverse rekreasie- en aktiewe leefstyl-program aan die Universiteit se studente en personeel, asook die gemeenskap, te bied.

Die instelling se Fasiliteitsbestuurspan het die projek gelei en die Tygerberg Meerdoelsportfasiliteit maak nou voorsiening vir tennis, netbal, basketbal, pluimbal en ander rekreasiekodes. Die projek is in Maart 2021 begin en die fasiliteit is op 21 Februarie 2022 geopen.

Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur van Maties Sport, is baie tevrede met hierdie projek.

“Die fasiliteit skep die geleentheid vir beter diens- en programlewering, en bied ook geleenthede aan studente, personeel en die omliggende gemeenskap vir inisiatiewe soos om plaaslike liga’s en sosiale-impakprogramme aan te bied.

“Maties Sport bly daartoe verbind om geleenthede te skep om deelname aan rekreasie-aktiwiteite te verbeter en só by te dra tot ’n aktiewe leefstyl, en hierdie fasiliteit bied aan ons studente en personeel die geleentheid om ’n gesonde en gebalanseerde lewe te leef met akademie en sport op die voorgrond.”

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, het by die opening van die fasiliteit gesê: “Ontspanning is belangrik, werkbalans is belangrik omdat uitbranding ’n werklikheid is. Ons het dit veral in die afgelope twee jaar gesien en dit is veral waar vir ons gesondheidsorgpersoneel. Daarom is dit noodsaaklik vir ons algehele gesondheid en welstand om ’n balans te vind en tyd op hierdie bane te spandeer, wat fantastiese bane is!”

Tygerberg-kampus se sportadministrateur, Yaseen Gangat, het ook sy dankbaarheid uitgespreek.

“Hierdie fasiliteit maak dit vir gebruikers moontlik om ná-ure sport te doen, wat noodsaaklik is inaggenome die besige skedule van ons studente op kampus.”

Wandile Mokhele, sportbestuurder van die Tygerberg Studenteraad, meen die fasiliteit sal ’n groot verskil maak aan studente se fisieke en geestelike gesondheid.

“In die eerste paar weke nadat die fasiliteit oopgemaak het, het meer studente as ooit tevore die bane gebruik tydens alle ure van die dag. Ek dink daar gaan ’n paar onvergeetlike ervarings op hierdie bane plaasvind en ek hoop dit is die eerste tree op die pad na uitnemendheid vir sport op Tygerberg.”

Caitlin Sithole, ’n Maties Sport-sokkerspeler en MBChB-student, het bygevoeg dat sport vir hulle as studente baie belangrik is – nie net vir hul fisieke welstand nie, maar ook vir hul intellektuele welstand.

“Ek kan persoonlik getuig dat sport ’n integrale deel van my lewe is en dat dit my toegelaat het om te fokus op my akademie wanneer ek moes, maar ook op my algehele welstand. As jy nie na alle aspekte van jou welstand omsien nie, kan jy nie floreer nie.”

Prof. Elmi Muller, dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, meen ook die fasiliteit sal ’n belangrike rol speel.

“Jy kan nie ’n loopbaan in die geneeskunde betree en al die uitdagings wat ons elke dag sien met pasiënte en pasiëntesorg hanteer as jy nie kan afskakel en ’n gebalanseerde lewe lei nie. Dit is ’n belangrike ding vir almal van ons en ons doen dit almal op verskillende maniere, maar sport is ’n groot deel hiervan en daarom is ek baie opgewonde dat ons hierdie pragtige fasiliteit het wat geleenthede sal skep vir baie van die studente wat op kampus woon of werk. Ek hoop dit sal ’n plek van genot, pret, geluk en baie meer sosiale geleenthede wees,” het sy afgesluit.