Crowie beskou uitdagings as oorwinnings vir Maties Sokker

Maties Sokker beleef tans ’n moeilike seisoen met baie uitdagings nadat hulle ongeveer ses maande gelede hul eerste wedstryd in die ABC Motsepe-liga gespeel het.

“Sommige spelers voel hulle hoort nie saam met hul portuurgroep nie en die uitslae tot dusver was nie goed nie, maar ons vertonings gee stadig maar seker vir die spelers die selfvertroue om teen ons opponente mee te ding,” sê hoofafrigter Desmond Crowie.

Hy bly optimisties en moedig die span aan om elke oorwinning te vier. Toe die span hul eerste punt aangeteken het teen Cape Town Hotspurs, met ses voormalige professionele spelers in hul groep, het dit hulle die ekstra vertroue gegee om teen die ervare span te speel.

Op die vraag oor wat die span se mees positiewe oomblikke in die afgelope week/maand/jaar was, het Crowie gesê: “Dit was ’n seën dat ons in die eerste ronde van die Nedbank-beker teen die wenners van 2020/21 ABC Motsepe-liga verloor het. Ek glo vas dat mens deur teenspoed leer. Ons is 4-1 geklop, en van daardie wedstryd af kon ek sien hoe die spelers se intensiteit tydens oefensessies toeneem.”

Dit is duidelik dat die span hul nederlae in leerervarings omskakel. Dit kan by tye vir studente-atlete oorweldigend wees om deelname aan ’n hoëprestasie-sportkode met hul akademiese verpligtinge te balanseer, maar hulle doen steeds hul bes op die veld, by oefensessies en in die klaskamer.

’n Memorandum van Verstandhouding (MVV)  tussen Maties Sokkerklub en Stellenbosch Sokkerklub (SFC) is in 2021 gesluit, en die MVV stel die twee spanne in staat om saam te werk om spelers van hoë gehalte in Stellenbosch en die groter Wynlande-gemeenskap te ontwikkel. Volgens Crowie het die Stellenbosch Sokkerklub gehelp met die werwing van ’n paar plaaslike spelers wat ’n groot bate vir die span is.

“Ons beste doelskopper in die SAB-liga is deur ’n paar spanne genader en SFC het hom gewerf om saam met hul DDC- en PSL-span te oefen. Daardie inistiatief het ons gehelp om sy dienste te behou en hy is tans een van die topdoelskoppers in die liga, met sewe doele.”

Crowie sê dat die bou van ’n inklusiewe kultuur in die sokkerklub, spesifiek in die Wynlande-omgewing, ’n topprioriteit vir hom as afrigter is, en sy doel is om plaaslike talent te koester en spelers na ’n hoër standaard te druk. Dit sal vir sokkerspelers meer geleenthede en ervaring gee op ’n groter verhoog as waaraan hulle voorheen gewoond was.

Hoewel die liga uitdagend is, fokus Maties se sokkerspan daarop om wedstryd ná wedstryd te verbeter.

“Die proses is belangriker as die uitslag,” sluit Crowie af.