Maties het oog op Varsitybeker-kroon

Die Maroenmasjien se voorbereiding vir die Varsitybeker het al verlede jaar begin in die hoop dat die span die beker aan die einde van vanjaar se kompetisie huis toe sal bring.

Maties is al vyf keer as Varsitybeker-kampioene gekroon en wil hul veldtog op ’n positiewe noot afskop wanneer hulle op 14 Februarie die verdedigende kampioene, UP-Tuks, op hul tuisveld aandurf. Maties sal twee weke later hul eerste tuiswedstryd in die Danie Craven-stadion speel teen Wits.

’n Nuwe reël sal dinge hierdie jaar interessant hou. Die hersiene 50/22-reël bepaal dat:

“As ’n span met balbesit die bal van binne sy eie helfte (50m) nie direk by die kantlyn uitskop nie, sal die span ’n vryskop kry 15m binne die veld oorkant of agter die plek waar die bal by die kantlyn uitgegaan het. Daardie span mag nie ’n skrum of lynstaan neem nie; hulle moet ’n tikskoppie gee. As die span van daar af punte aanteken, sal die waarde van die drie sewe punte wees. Daar is geen vereiste vir ’n vaste faset binne jou eie helfte nie. ’n Span mag die bal terug in hul eie helfte neem en dit nie direk uitskop nie binne die opponent se 22m. As ’n span van die tikskoppie af ’n drie druk, kry hulle ’n bykomende twee punte vir daardie drie.”

Die hoof van die Maties Rugby-program, Drikus Hancke, is baie gelukkig met die manier waarop die span se voorbereiding verloop het.

“Ons het nie baie beserings gehad nie en het die meeste van die tyd met ’n voltallige oefengroep geoefen. Die spelers en bestuur werk baie hard.

“Die spelers is in ’n goeie fisieke toestand en ons is opgewonde om na die volgende fase toe te beweeg. Vriendskaplike wedstryde het ons ’n beter idee gegee van waar ons staan en het die spelers waardevolle wedstrydoefening gegee voordat die toernooi begin. Die mededinging vir heelwat posisies is kwaai en die spelers het die geleentheid gehad om in aanmerking te kom om vir die span gekies te word,” het hy verduidelik.

Op die vraag oor of daar enige spelers is wat die Maties-ondersteuners spesifiek moet dophou, het Hancke gesê: “Dit is moeilik om spelers uit te sonder, aangesien daar baie gehaltespelers in ons oefengroep is. Ek sal twee nuwelinge noem wat die ondersteuners dalk nie sal ken nie. In die loskopstutposisie het ons Rynhardt Rijnsberger en Vernon Matongo wat baie belowende spelers is. Hulle is albei sterk skrummers en baldraers.”

Twee van Maties se grootste mededingers hierdie jaar is UP-Tuks en die NWU Arende.

“Ek dink die mededingers gaan almal baie sterk wees, maar as ek moet kies, sal ek sê Tuks (wat altyd sterk is) en Pukke wat nog baie van verlede jaar se spelers het.”

Hancke het ’n span wat saam met hom aan Maties se eerste en Young Guns-span werk en die spelers motiveer.

Die afrigtingspan is:

  • Drikus Hancke (Hoof: Maties Rugby-program)
  • Norman Jordaan (Senior span se hoofafrigter)
  • Kabamba Floors (Senior span se hulpafrigter)
  • Eddie Fredricks (Young Guns se hoofafrigter)
  • Pieter van Rooyen (Young Guns se hulpafrigter)

Die afrigters het beslis bygedra tot een van verlede jaar se Varsitybeker-suksesstories: Munier Hartzenberg, wat by Griekwas aangesluit het ná sy bydrae vir Maties. Dié vleuel het vyf drieë in die 2021-kompetisie gedruk en is ná die toernooi as die agterspeler van die toernooi (FNB Back that Rocks) aangewys.

Hartzenberg het Rangers FC in Kaapstad verteenwoordig voordat hy deel van die Westelike Provinsie se junior strukture geword het. Later het hy een van Maties se mees aanvallende spelers geword. Hy het in 2022 sy Curriebeker-debuut vir Griekwas gemaak teen die Cheetahs.

Ons hoop dat hierdie seisoen selfs nog meer sterre sal oplewer. Skakel in by die Varsitybeker-kompetisie en ondersteun die Maroenmasjien!