Maties Sport verwelkom vier nuwe interns

Maties Sport het onlangs vier nuwe interns verwelkom vir 2022. Die internskapprogram is ontwerp om leergeleenthede en -ervarings te skep en jong gegradueerdes in die sportbedryf te ontwikkel.

Bathabile Ndevu, die Sportbestuur-intern, was nog altyd passievol oor sport en is baie dankbaar vir die geleentheid wat Maties Sport aan haar bied.

“Hierdie geleentheid gee my ervaring en blootstelling en sal my help om my karakter te bou en my kennis oor die sportbedryf uit te brei.”

Bathabile sê voorts hoe opgewonde sy is oor die moontlikheid van ontwikkeling in die werkplek en die uitdaging om met verskillende individue en in verskillende omgewings buite haar gemaksone te werk.

“Ek hoop om vaardighede te ontwikkel wanneer dit kom by die bestuur van sportklubs en geleenthede in hierdie posisie – ek wil graag my loopbaan as sportbestuurder en sportadministrateur bevorder.” 

Die geleentheid waarna Bathebile die meeste uitgesien het, was die verwelkoming van die eerstejaars, aangesien dit die eerste geleentheid was waarby sy as ’n Maties Sport-intern betrokke was.

Jamie Wyngaardt, die intern vir media en kommunikasie, sien hierdie geleentheid as die perfekte manier om insig oor en ervaring in die bedryf op te doen.

“My verwagtinge vir hierdie internskap by die Universiteit Stellenbosch (US) is om so veel moontlik praktiese ervaring te kry. Ek is gretig om te leer en my vaardighede te gebruik om die mediaspan by te staan met die onderskeie sportkodes, toernooie en geleenthede wat Maties Sport aanbied.

“Ek het tot dusver al baie vaardighede ontwikkel, hoewel die werk fokus op skryfwerk. Ek doen ook ervaring op in administrasie, sosialemediabestuur en grafiese ontwerp.”

Die sportgeleentheid waarna Jamie die meeste uitsien, is die FNB Varsitybeker, aangesien rugby haar gunstelingsportsoort is om te kyk.

Amy Apollis, een van die interns by die Hoëprestasie- (HP-) eenheid, stem saam:

“As ’n ware Matie moet ek sê (ek sien die meeste uit na) die Varsitybeker, veral omdat dit die eerste keer is sedert die begin van die COVID-19-pandemie dat daar weer toeskouers mag wees. Ek is baie opgewonde om te sien hoe dit die atmosfeer gaan verander.”

Amy en haar voormalige klasmaat Brady Wiseman kom albei van die Departement Sportwetenskap aan die US af. Albei interns in die HP-eenheid het hul honneursgraad in Sportwetenskap voltooi en sien uit na die jaar waartydens hulle vier jaar se teorie in praktiese formaat kan toepas.

“Amy en Brady het (as studente) albei blootstelling gehad aan die HP-eenheid en die dienste wat ons aan studente-atlete en spanne bied,” sê Grant van Velden, Sporttegnologie- en opleidinginnovasiebestuurder.

Amy was as student aktief betrokke by die sokkerprogram, terwyl Brady Maties vier jaar lank op die hokkieveld verteenwoordig het en kaptein was van die eerste vrouehokkiespan, wat deur die HP-eenheid bygestaan word.

“Ek was self ’n studente-atleet en nou help ek ander studente-atlete om te presteer,” sê Brady.

“Die interns doen waardevolle insig en praktiese vaardighede op onder die kundige leiding van ons baie ervare prestasiewetenskaplikes wat al jare lank in die hoëprestasie-sportbedryf werk. Ons ontvang elke jaar baie goeie aansoeke van die US se Departement Sportwetenskap af en ons is gelukkig dat ons in 2022 twee uitstekende HP-interns kon aanstel,” verduidelik Van Velden.

“Ons is opgewonde om vier baie bekwame interns te hê wat hierdie jaar by die Maties Sport-span aangesluit het. Maties bied ’n ongelooflik unieke geleentheid om waardevolle vaardighede – spesifiek in die sportbedryf – te ontwikkel en ons verwelkom hulle idees en energie met oop arms,” voeg Media- en Kommunikasie-bestuurder Kimara Singh by.