’n Klein dorpie buite Oos-Londen genaamd Emoyeni (Plek van die Wind) waar ’n tamatieplaas meer as net die produkte produseer. Meesterstudent in Sportwetenskap en lid van die Maties-fietsrykomitee sedert 2019, Robyn Emslie se karakter is diep gewortel op die familieplaas in Emoyeni in die Oos-Kaap.
Die voormalige Diocesan Skool vir Dogters-leerling is ’n intern by Maties Sport se Hoë Prestasie-eenheid. Met haar gegronde agtergrond hoop Emslie om ’n impak te maak nie net deur haar sportvernuf nie, maar ook met haar meestersgraad-tesis wat die impak van verskillende fases van die menstruele siklusse op vroue se fietsry prestasie ondersoek.
“Ek is my hele lewe lank ’n avonturier en adrenalienverslaafde,” erken Emslie terwyl sy van haar grootword jare vertel.
“My hele familie is sportief en obsessief oor fiksheid. Geen wonder nie dat ek na die Lilyfontein-skool gestuur is. Dit is ’n avontuurskool op ’n plaas. Ek het aan allerhande sportsoorte deelgeneem, maar toe ek 13 was het ek besluit om bergfietsry my primêre mededingende sport te maak. Avontuur-wedrenne op uiteenlopende terreine, skool-klubwedrenne, en die 24-uur-fietsaflos wat jaarliks aangebied word, het my oorreed om verder te gaan met my fietsry.”
Die 22-jarige deel van die redes waarom sy so lief is vir veldwedrenne, hoe sy in die ekstreme sport beland het, en ook oor ’n kort verandering in sportkode – van fietsry na tennis en hokkie – en vertel hoe ver sy gekom het sedert haar skooldae in Makhanda.
“In veldwedrenne (die Olimpiese formaat) moet jy ’n sekere aantal rondtes van 4-5 km op ‘n roete met steil klimme en klipperige afdraandes aanpak. Dit gaan alles daaroor om goeie tegniese vermoëns te hê al is jy hoe moeg. Die tegniese aspek is wat my in die sport gehou het. Ek hou daarvan om oor klippe en boomwortels te jaag en volspoed te gaan met die afdraande!
“Toe ek van skole moes verander, het ek fietsry so bietjie op die ys gesit en hokkie en tennis het my fokus geword. Ek het egter die veldwedrenne baie gemis. Op universiteit het ek by die Maties-fietsryklub aangesluit en weer van vooraf verlief geraak op bergfietsry.”
Emslie gaan voort en vertel meer oor die impak van fietsry op haar persoonlike lewe.
“Ek het my kêrel deur die klub ontmoet, en ons het gereeld saam geoefen. Die wedrenne was nie so ernstig nie, maar die gees was. Ek het eers weer in behoorlike wedrenne ingekom in my vierde jaar toe ek meer op die padfiets gery het en vir die Maties-fietsryspan gejaag het in kriteria en padliga-renne. Na die padseisoen het ek op my bergfiets geklim en besluit om aan uithouwedrenne te begin deelneem. Dit is nou my gunsteling.
“Jou tyd word net op afdraandes geneem. Wat ek moet beklemtoon is hoe tegnies en steil dié afdraandes is en dan praat ek nog nie van die groot spronge nie! Ek het my eerste Lite-ren gewen en het sedertdien ook aan die ware Jakob wat langer en moeiliker is begin deelneem.”
Die HP intern het ’n sterk gevoel van lojaliteit teenoor haar pa vir sy opofferings en hoe hy uitdagings aangepak het. Emslie vertel trots van haar pa as haar oefenmaat en afrigter.
“Ek onthou dat ek in my skooldae voor vier in die oggende opgestaan het om te oefen. Ek kyk die meeste op na my pa. Sy passie en vasberadenheid het my nog altyd geïnspireer om te doen waarvoor ek lief is. Daar was baie uitdagings vir hom om as boer en deur elkeen hiervan het hy my geleer waar om my krag en ondersteuning te soek. Meeste van my lewenslesse, finansiële advies, aanvanklike sportpassie, onbaatsugtigheid, en soveel meer kom van hom af. Ek hoop hy weet hoe dankbaar ek is vir alles wat hy my voorsien het.”