’n Trofee of ’n foto van die sege-vieringe vertel net die helfte van die storie.
Die Maties-vrouerugbyspan het onlangs die eerste Varsitybeker-titel vir vroue gewen. Op die tradisionele seëvieringsfoto, glimlag spelers en afrigters breed en straal almal van trots. Dié foto spreek egter van veel meer as net die bekende ‘1000 woorde’-frase wat deur Fred Barnard geskep is. Agter al daardie glimlagte skuil jare se harde werk en uitdagings wat, elke keer as dit kop uitgesteek het, sonder voorbehoud aangepak is.
Net soos die Maties-mansrugbyspan – wat die eerste Varsitybeker onder Chean Roux in 2008 gewen het – het die Maties-vrouespan die eerste span geword wat sy naam op die Varsitybeker-trofee vir vroue gegraveer het.
Maties Vroue se hoofafrigter, Johann Zeier, beskryf nie net sy persoonlike reis saam met dié groep nie, maar ook hoe elke lid van die groep – verlede en hede – onbaatsugtig tot ’n wenkultuur bygedra het.
“Hierdie oorwinning is die resultaat van jare se beplanning,” het Zeier gesê.
“Ons werk hard sedert 2018, en ek is uiters trots op die hele sisteem. Elke speler in die span het besonder goed gevaar en het hulself, hul spanmaats, die afrigters, die universiteit en myself baie trots gemaak.”
Zeier werk die laaste paar seisoene as vrywilliger by die Maties Vroue, terwyl hy steeds ook mansrugby afrig. Hy is ’n afrigter by die Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS) se rugbyprogram en prestasie-ontleder van beroep. Hy is al byna ’n dekade by Maties Rugby betrokke. Terwyl die wen van ’n trofee en dit nogal die eerste Varsitybeker-vroue ’n wonderlike prestasie is, ervaar Zeier ’n gevoel van genoegdoening met die manier waarop hulle beplan, hard gewerk, en die plan uitgevoer het.
Die voormalige Maties Young Guns-speler het die Maties Sport-base geloof vir die belegging in sport en spesifiek vrouesport.
“Ek is absoluut mal oor afrigting, was nog altyd. Om met mense, studente en atlete te werk, is iets wat ek baie geniet. Om te sien hoe spelers ontwikkel, beter mense word, goeie rugby speel en hul grade verwerf, is een van die mees besonderse prosesse om van deel te wees.
“Ons het regtig alles wat ons nodig het. Ons besef eers hoe gelukkig ons by Maties Sport is as ons na ander instansies gaan en sien wat hulle het (nie het nie). Die afgelope ses jaar het Maties Sport en Maties Rugby werklik vrouerugby ondersteun. Om vir ’n handelsmerk te werk wat jou ondersteun, maak ’n massiewe verskil in die manier waarop dinge gedoen word en ek glo dit is ’n groot positiewe bydrae tot ons hoë prestasie omgewing.”
Om twee baie veeleisende loopbane te balanseer kan beteken dat jy op enige oomblik beheer van die een kan verloor. Vir Maties-kaptein en -binnesenter, Bianca Augustyn, is dit egter nie die geval nie. Dié Siviele Ingenieurswese-student, wat die Suid-Afrikaanse Vrouesewe-span by die 2022 Statebondspele in Birmingham verteenwoordig het, is tans besig om haar Meestersgraad te voltooi. Sy het die woorde van haar afrigter beaam nadat sy die Varsitybeker omhoog gehou het.
“Hierdie sege is regtig belangrik vir ons as ’n groep. Daar is veral sedert verlede jaar baie in ons veldtog belê. Dit was vir ons dus belangrik om resultate te lewer. En dit is presies wat ons gedoen het. Ons het begin met die 2022 USSA-titel in sewesrugby en nou die Varsitybeker. Ons baan die weg vir vrouerugby by Maties en inspireer hopelik ’n paar individue langs die pad om ook by dié sport aan te sluit. Ek sê altyd as vrouerugbyspelers het ons niks om te verloor nie, maar alles om te wen. Ondersteuning is belangrik in enige sport, want sonder die regte ondersteuningstruktuur gaan dit moeilik wees om te presteer.”
Die belangrikheid om ’n balans te handhaaf is noodsaaklik vir studente-atlete.
“Ja, ek glo vas dat dit belangrik is om goeie opleiding te hê al is jy ’n beroepsatleet. Die lewe is onvoorspelbaar en jy weet nooit wanneer jy ’n besering opdoen wat jou loopbaan beëindig nie en dan het jy niks anders om terug te val nie.”
Augustyn en Zeier se reis met vrouerugby by die Maroenmasjien het in 2018 begin. Albei voel baie sterk daaroor om die spel onder vroue nie net by die Stellenbosch Universiteit te bevorder nie, maar om te sien hoe hulpbronne aangewend word om die spel vir komende generasies te verseker.
Augustyn glo dat toernooie soos die Varsitybeker-reeks die sleutel tot die groei van die spel is.
“Dit is groot blootstelling vir vrouerugby op universiteitsvlak, veral in Suid-Afrika, waar dit steeds ’n groeiende sport is. Dit gee spelers by die universiteit die geleentheid om deel te wees van iets groter en dit is ’n wonderlike platform om die nodige vaardighede te begin aanleer en om later potensieel ’n professionele rugbyspeler te wees. Ek is opgewonde om te sien hoe die vroue se Varsitybeker-reeks gaan groei om meer spanne te betrek en meer wedstryde te speel tot ons by die punt van ’n volwaardige toernooi soos die mans s’n kom.”
Zeier het bygevoeg: “Vrouesport in Suid-Afrika verseker tans nog nie vol stadions nie en bring nie tonne inkomste nie, ons moet ook die uitdagings verstaan oor hoe moeilik dit kan wees om finansiering te genereer vir spanne wat nie geld inbring nie. Daar is baie begrip van beide kante van die munt, maar ek glo in die belangrikheid van die verbetering van vrouerugby in Suid-Afrika. Ek hoop regtig ons sal eendag daar uitkom.”
Deur Lyndon Julius