Maties se Laka begin nuwe hoofstuk by Kovsies

Maties Sport se Direkteur van Ondersteuningsdienste, Jerry Laka, begin na sewe jaar ’n nuwe hoofstuk in sy loopbaan as een van Suid-Afrika se voorste sportadministrateurs. 

 

Laka is die Universiteit van die Vrystaat se nuwe Direkteur van Sport. 

 

Laka het ’n deurslaggewende rol in sy pos by Maties Sport gespeel waar operasionele uitnemendheid die middelpunt was van alles wat hy gedoen het. Hy was betrokke by die opleiding en ontwikkeling van Maties Sport se personeel, die uitvoering van strategiese doelwitte met besondere fokus op die opknapping van Maties Sport se fasiliteite en hy was ook ’n mentor en leier vir verskeie Maties Sport personeellede.  

 

Hy is trots op sy werk en hy sal gemis word in die gange van die Jannie Marais Huis. Laka het onlangs sy meestersgraad voltooi. Hy sien baie uit na die nuwe geleentheid wat in die Vrystaat op hom wag. 

 

“Dit was nie ’n maklike besluit vir my nie aangesien Maties Sport deel van my wese geword het, Matieland was ook my tweede tuiste. Ek het sterk en belangrike verhoudings opgebou en my bloed is nou maroen! Dit is egter so dat mens een of ander tyd aan persoonlike en loopbaan-groei moet dink met die oog op die toekoms,” sê Laka. 

 

“Ek het my tyd hier by Maties Sport geniet. Ek waardeer die ondersteuning en bystand wat ek tydens my ampstermyn ontvang het om in my loopbaan en ook persoonlik te groei. Dankie aan die universiteit wat my die geleentheid gebied het ervaringe op te hou en meer te leer.” 

 

Hoofdirekteur van Maties Sport, Ilhaam Groenewald, sê: “Ons praat al baie lank hieroor en die nuus het nie as ’n skok gekom nie. Verskeie universiteite het in Jerry se dienste belanggestel. Ek het my dus goed voorbereid op die dag wat nou aangebreek het. Dit is ’n belangrike loopbaanskuif vir hom. Dit is met hartseer dat ons van Jerry afskeid neem, maar ons glo hy sal groot dinge by Kovsies doen, en soos Jerry self genoem het eenmaal ’n Matie, altyd ’n Matie.” 

 

Deur Kimara Singh