Maties klop Tuks; bly onoorwonne

Deur Maties Sport Media en Kommunikasie-eenheid 

Die Maties-netbalspan is ná drie wedstryde in die Varsity-netbaltoernooi steeds onoorwonne. Maties het die Universiteit van Pretoria (Tuks) met 57-55 in die Rembrandt-saal (Pretoria) verslaan. 

Danksy dié sege is Maties tweede op die puntestand slegs agter die Noordwes-universiteit weens doeleverskil. 

“Dit was ’n baie moeilike wedstryd, maar ons het niks minder verwag nie. Ons het vooraf geweet dit gaan ’n spannende stryd wees en die laaste minute deurslaggewend sal wees. Die span het goeie karakter getoon. Dit is duidelik dat dié span wedstryde kan wen, al word dit nie van hulle verwag nie!” sê Zanele Mdodana, hoofafrigter van Maties Netbal. 

Verloop van wedstryd 

Soos in hul vorige wedstryde, het Maties sterk begin. Hulle het ’n voorsprong van 16-11 aan die einde van die eerste kwart opgebou danksy akkurate doelwerk deur die kaptein Sian Moore. 

Die tuisspan het in die tweede kwart ritme gevind met Tuks se Alice Kennon wat koel en kalm in die doelsirkel was. Teen rustyd het die span van Pretoria die gaping na twee doele (29-27) laat krimp. Tuks het met ’n baie goeie derde kwart die wedstryd op sy kop gekeer deur die agterstand uit te wis en het met drie doele die voorsprong geneem. 

Maties moes diep delf in die laaste kwart om eers sake gelyk te maak en toe die beslissend voortou te neem. 

Wedstrydstatistiek 

Kwart-tellings: EERSTE KWART: Maties 16-11 Tuks; TWEEDE KWART: Maties 29-27 Tuks; DERDE KWART: Maties 41-44 Tuks; EINDTELLING: Maties 57-55 Tuks. 

Doele persentasie: Maties 88%, Tuks 80% 

Balle onderskep: Tuks 10, Maties 8 

Strafdoele: Maties 61, Tuks 35