Maties-hokkiespeler skitter op die internasionale verhoog

Ofskoon sy nou na nuwe sportrolmodelle moet soek, sal die Maties-hokkiesuperster, Kayla de Waal nog vir lank deur legendes Roger Federer en Serena Williams geïnspireer en gemotiveer word.  

 

Dié twee voormalige tennisspelers het onlangs hul uittrede aangekondig. De Waal was ’n ywerige volgeling van albei sportikone se loopbane. 

 

“My sporthelde is Serena Williams en Roger Federer, nou moet ek nuwe sportrolmodelle vind. Hulle het soveel vir die sportwêreld gedoen. Elkeen is in eie reg legendes van nie net tennis nie, maar sport in die geheel. Ek het dit geniet om hulle in aksie te sien,” sê De Waal. 

 

Dié alumnus van die Herschel-meisieskool speel sedert 2020 vir Maties se hokkiespan. Weens die nasionale inperking het De Waal in haar tyd by Maties in net een USSA-toernooi gespeel. Sy het in Graad 1 begin hokkie speel. Sy geniet beide veld- en binnenshuise hokkie.  

 

“Weens die Covid-pandemie het ek grotendeels vir Maties in die Westelike Provinsie-liga verteenwoordig. My enigste USSA-toernooi was in 2021. Ek het as ses-jarige hokkie begin speel. Veld- en binnenshuise hokkie verskil baie van mekaar, maar ek hou van albei ewe veel! Binnenshuise hokkie word op ’n baie kleiner baan gespeel en daar is net ses spelers op ’n slag op die baan vergeleke met 11 in veldhokkie. Daar is ook borde langs die baan waarvan jy kan afspeel, so die bal kan basies net oor die agterlyn van die baan uitgaan. Jy kan ook nie die bal in binnenshuise hokkie lig nie tensy jy ’n doel probeer skiet.” 

 

De Waal dink oor ’n paar spesiale oomblikke as hokkiespeler en beklemtoon een spesiale Maties-herinnering saam met haar prestasie om haar land te verteenwoordig. 

 

“Ek het baie spesiale sportherinneringe, maar om deel te kon wees van die SA o.18-hokkiespan, wat vierde by die Olimpiese Jeugspele in Argentinië (in 2018) geëindig het, is een van my grootste prestasies in my loopbaan tot dusver. Om my senior debuut vir die veld- en binnenshuise SA-spanne was ook baie spesiaal. 

 

“My gunsteling Matie-herinnering tot dusver is die twee agtereenvolgende WP Liga-seges in 2021 en 2022.” 

 

Die 22-jarige De Waal was verheug met haar insluiting in die Suid-Afrikaanse groep vir die 2022 FIH Wêreldbeker-hokkietoernooi. 

 

“Ek was absoluut mal daaroor om op die internasionale verhoog te speel en ek het elke sekonde om my land te verteenwoordig ten volle benut. Ons het ons eerste doelwit bereik om die tweede ronde van die toernooi te haal, maar daarna het ons, teleurstellend genoeg, nie die resultate behaal waarna ons gemik het nie. 

 

“Ons het egter baie geleer en weet daar is baie harde werk wat gedoen moet word in die volgende fases van die oefening en voorbereiding om te kom waar ons as ’n span wil wees.”