Die passievolle affiniteit vir rugby in ’n land soos Suid-Afrika is tasbaar. Toe Maties die eerste FNB Varsitybeker in 2008 en die daaropvolgende twee titels gewen het – ’n rekord wat tot vandag toe ongeskonde bly – het dit die sukses aan die gang gesit wat sowat ’n dekade later na die Maties-vrouespan sou oorspoel.
Bianca Augustyn, Maties-kaptein, het die eerste Varsitybeker-trofee vir vroue in 2023 omhoog gehou toe Maties UJ met 63-9 in Bellville geklop het. Dié sukses het in 2018 begin toe hoofafrigter Johann Zeier die plan saamgestel het wat die Maties vroue sou help om ’n kampioenspan te word.
Augustyn is ’n siviele ingenieurswese-student wat Suid-Afrika by die 2022 Statebondspele in Birmingham verteenwoordig het. Sy was deel van die vroue-sewespan. Sy is tans besig om haar meestersgraad te voltooi. Rugby was deel van Augustyn se vormingsjare. As enigste kind het sy meestal saam met haar neefs gespeel en dikwels het dit rugby in die strate van Vredenburg ingesluit.
“Toe ek grootgeword het, was ek altyd mal oor die sport en het sommer in die straat saam met my neefs gespeel,” het Augustyn aan Maties Sport gesê. “Maar ek het aan die begin van my tweede jaar amptelik vir die universiteit begin speel.”
Vir die oud-leerder van Hoërskool Hopefield is dit ’n rugbyloopbaan wat sy wil volg ten spyte van ’n sterk passie en lus vir siviele ingenieurswese. Haar aspirasies is groot en dit sluit in die moontlikheid om oorsee te speel.
“Ek wil so lank as wat ek kan rugby speel, maar dit is ongelukkig nie vir ewig volhoubaar nie, daarom werk ek nou hard om seker te maak ek sal myself in die beste posisie moontlik plaas. Ek hou eintlik nie daarvan om so ver vooruit te beplan nie, want die lewe is onvoorspelbaar en baie soos ’n rugbywedstryd, jy moet aanpas by wat voor jou is.”
Met ’n kwalifikasie in siviele ingenieurswese agter haar naam, het Augustyn die wêreld aan haar voete, met opsies in oorvloed. Sy hoop om dieselfde passie en vurigheid vir rugby by ander vroue aan te wakker deur haar speelstyl en openhartigheid.
“As ek moet sê waar ek myself oor vyf jaar sien, sou dit wees om klubrugby in die buiteland te speel en net die meeste van elke geleentheid wat oor my pad kom te maak. Aan die einde van die dag sal ek my meestersgraad hê om op terug te val as dinge nie uitwerk soos ek wil hê dit moet nie.
“Nog ’n doelwit wat in die 5-10 jaar plan val, is om vir die Springbokke uit te draf en ons Volkslied te sing. Ook, as die geleentheid kom om in die buiteland te speel, sal ek dit oorweeg.
“Ek wil jong meisies en vroue rondom my inspireer deur ’n voorbeeld te wees en diegene rondom my op te bou en aan te moedig om entoesiasties te wees oor sport en die lewe.”
Ten spyte van gesamentlike en waardevolle pogings wat deur sportfederasies, klubs, skole en universiteite gedoen word, moet vroue in sport steeds baklei vir hul plek in die ry. Borgskappe, bemarkingsbegrotings, menslike hulpbronne en toerusting belemmer die groei wat ons in ander lande soos Engeland, Australië en Nieu-Seeland sien.
Augustyn voeg by: “Vroue in sport staar ’n aantal uitdagings in die gesig. Een van dié uitdagings is die ongelykheid in rugby. Oor die algemeen sukkel vrouerugby met borgskappe. Dit is nogal ’n uitdaging om te presteer as niemand jou ondersteun nie.
“Rugby word in Suid-Afrika oorwegend steeds as ’n mansport gesien, maar ons verander die narratief stadig maar seker. Daar is tans min of geen mediadekking vir vrouerugby nie, wat sal help, want hoe meer blootstelling die sport kry hoe meer ondersteuning sal jy aan die einde van die dag hê.”