Semenya keer terug na Stellenbosch

Dit was ’n 360-oomblik vir Caster Semenya – en vir Stellenbosch – toe die wêreldbekende hardloop-ikoon die dorp weer besoek het om met studente te praat oor haar boek, haar loopbaan en om jongmense aan te spoor om getrou te wees aan hulself.

In April 2016 het Semenya vir Suid-Afrikaanse atletiekgeskiedenis in die Coetzenburgstadion gesorg. Sy was die eerste persoon ooit om die 400, 800 en 1500 m in ’n enkele SA Senior-byeenkoms te wen. Sy het al drie seges in een dag behaal.

Op daardie historiese dag het sy die wedlope gewen met Olimpies kwalifiserende tye in die 400 m (50.74 sekondes) en die 800 meter (1:58.45). Daar was net 50 minute tussen dié twee wedlope. Sy het haar goue medalje in die 1500 in ’n tyd van 4:10.93 gewen.

Semenya is met warm toejuiging begroet toe sy lede van die universiteit met die bekendstelling van haar boek, The Race To Be Myself, toegespreek het. Dit handel oor haar reis van ’n klein dorpie in Limpopo na die hoogtepunt van haar atletiekloopbaan met onder andere twee Olimpiese titels.

Sy het met nostalgie teruggedink aan daardie dag in 2016. Volgens haar was dit baie spesiaal om terug te wees in Stellenbosch waar sy groot sukses behaal het.

“Coetzenburg is een van daardie plekke wat ek vir die res van my lewe sal onthou. Hier het ek geskiedenis gemaak. Ek het drie wedlope in drie ure gewen.”

Die voormalige nasionale atletiek-afrigter Wilfred Daniels was ’n spesiale gas by die geleentheid. Hy is nog altyd een van Semenya se grootste ondersteuners en het haar geprys vir haar vasberadenheid en fokus.

Gebore in Limpopo, het Semenya reeds op ’n jong ouderdom talent getoon. Sy het vertel hoe sy aanvanklik daarvan gehou het om sokker te speel. As student aan die Universiteit van Pretoria is haar talent as atleet herken.

Ofskoon sy suksesvol was, was haar loopbaan ook deur omstredenheid gekenmerk.

In Augustus 2009 het Semenya goud in die 800 m by die Wêreldbyeenkoms in Berlyn gewen. Na afloop van die sege is daar egter vrae oor haar geslagsoriëntasie gevra. Die IAAF het daarop aangedring dat sy ’n geslagverifikasietoets ondergaan om te bevestig sy is ’n vrou. In 2019 is nuwe reëls deur atletiek se wêreldbeheerliggaaam ingestel. Dit het atlete soos Semenya – atlete met Verskille in Geslagsontwikkeling (DSD) – verhoed om aan sekere dissiplines in die vroue afdeling deel te neem. Dit is tensy hulle bereid is om medikasie te neem om hul natuurlike testosteroonvlak te onderdruk.

Semenya het regstappe teen Wêreld Atletiek geneem. Volgens haar is die nuwe reëls diskriminerend. Daar is ook van haar verwag om medikasie te neem wat haar hormone sal verander. Sy het in haar boek dié ervaring as negatief beskryf. Die medikasie het haar siek gemaak.

Semenya, wat nou teruggee aan die sport deur jong atlete te afrig, het gesê sy het meer as ’n dekade gewag om haar verhaal te vertel. Sy het vertel dat in die tyd toe sy omring was deur al die omstredenheid, het sy verkies om eerder haar vertonings die praatwerk te laat doen.

Sy het gesels oor haar kinderdae en van haar struwelings as ’n tiener wat tekens getoon het van anders wees. Die bos rondom haar dorp was waar sy selfvertroue opgebou het. “Daar was ek in ’n stryd gewikkel teen myself. Dit was waar ek geleer het om verantwoordelik en verrekenbaar te wees, hard te werk en te fokus.”

Semenya het met passie oor haar liefde vir atletiek gepraat. “Wanneer ek hardloop, voel ek vry, ek is in my sone, ek is lig. Dit is ’n plek wat ek my tuiste noem.”

Sy het erkenning aan haar gesin gegee. Sy het verwys na hulle liefde en omgee in die moeilike tye en die feit dat hulle haar nooit veroordeel of gekritiseer het nie. “My ouers het ’n groot rol in my lewe gespeel, veral deur te verseker dat ek vir myself omgee. My selfontdekking het gekom deur die liefde wat my ouers aan my gegee het.”

Semenya het alle ouers aangespoor om hul kinders lief te hê “vir wie hulle is”, en gesê selfaanvaarding onder jongmense hang af van hoe hul geliefdes hulle behandel. Haar ouers kon haar soos ’n buitestaander behandel het omdat sy altyd sokker gespeel het, op die dak gehardloop het en nie skottelgoed gewas het nie. Volgens Semenya was dit egter net die teenoorgestelde.

“Self-verwerping begin wanneer jou geliefdes hulle rug op jou keer. Hoe jou geliefdes jou behandel, is hoe jou gemeenskap jou gaan behandel.”

Semenya se kernboodskap was vir jongmense was om hulself te aanvaar en lief te hê. “Aanvaar die manier waarop jy gebore is…dis reg om anders te wees.”

Deur Sue Segar