Suid-Afrika se sportgemeenskap is geskok met die nuus dat een van sy mees gevierde dogters oorlede is. Die nuus van Paralimpiese ikoon Zanele Situ (52) se dood is met buitengewone hartseer ontvang.
Gebore as Ntombizanele Situ op 19 Januarie 1971 in die Oos-Kaapse dorpie Matatiele, was Zanele een van die land se bekendste Paralimpiese atlete en ’n inspirasie vir haar generasie.
In 2000, in Sydney, het sy die eerste swart Suid-Afrikaanse vroue atleet geword om ’n Paralimpiese goue medalje te wen. Drie jaar later is sy erken vir haar prestasies toe sy die Orde van Ikhamanga (silwer) vir haar uitstaande bydraes tot sport van die Presidensie ontvang het.
Zanele was ’n gedugte spiesgooier. Op haar beste was sy met gemak die wêreld se beste in haar dissipline. Sy het haar goue medalje in Sydney – waar sy ook ’n silwermedalje in diskus gewen het – met nog ’n goue medalje by die Paralimpiese Spele in Athene (2004) opgevolg. Tydens dié Spele het sy ook die Whang Youn Dai-toekenning ontvang. Sy is een van net twee Suid-Afrikaners wat die eer ontvang het. Die ander is Natalie du Toit wat dit in 2008 ontvang het.
Sestien jaar na haar eerste medalje by ’n Paralimpiese Spele, het die Maties Parasport-atleet dit wéér reggekry. Sy het die bronsmedalje in spiesgooi (F54) by die Paralimpiese Spele in Rio gewen.
Tussen Sydney en Rio was haar loopbaan vol hoogte- en laagtepunte. By die Beijing Paralimpiese Spele in 2008 kon sy nie ’n medalje huis toe bring nie. Sy het sake egter in 2011 by die Wêreldbyeenkoms reggestel toe sy ’n bronsmedalje gewen het. Sy het ook ’n vierde plek by die Londen Paralimpiese Spele in 2012 behaal.
Dié uiterste-vasbeslote veteraan het nog twee Wêreldbyeenkoms-bronsmedaljes gewen – in Lyon (2013) en Doha (2015) – albei in spiesgooi. Sy het ook ’n afstand van 17.90 m, ’n persoonlike beste, gegooi om die bronsmedalje by die 2016 Spele te wen. Dit was haar eerste Paralimpiese medalje in 12 jaar.
Tydens Tokio 2020, aangebied in 2021 as gevolg van die Covid-19-pandemie, het sy Span SA by haar sesde Paralimpiese Spele verteenwoordig. Toe 50 jaar oud, was sy die oudste lid van die span wat uit 34 lede bestaan het.
Die groepleier vir die Tokio Spele was Leon Fleiser. Hy is die Algemene Bestuurder – Hoë Prestasie by die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie, Olimpiese en Paralimpiese Komitee (SASCOC). Fleiser het na Zanele as ’n Suid-Afrikaanse sportlegende verwys.
“Die nuus van Zanele se heengaan het, is hartverskeurend. Ons het ’n ware ikoon van nie net Suid-Afrikaanse sport, maar die Paralimpiese wêreld, verloor. Ek het haar oor die afgelope 20 jaar of so goed leer ken en sy was ’n aangename, vriendelike mens wat bo ongelooflike teenspoed uitgestyg het om die superster te word wat sy was. Ek het haar agter die skerms so baie keer gesien, ver weg van die kameras en die aandag wat sy gekry het. Sy was nederig, patrioties en ’n moeder vir die nasie.
“Sy was die vlagdraer vir Suid-Afrika by die Paralimpiese Spele in Rio (2016) en toe sy die eer ontvang het, was sy die trotste persoon op die aarde. Dit was vir haar van groot betekenis. Haar vernaamste prioriteit in haar lewe was altyd haar dogter, Azamazi, wat nou 17 is. Sy het my altyd vertel dat net so trots soos sy op haar is, is Azamazi op haar. Met die verloop van jare en Spele, het sy dié moederlike element na haar Paralimpiese spanmaats gebring. Sy was gewild, geliefd en gerespekteer.”
Die president van SASKOK, Barry Hendricks, was een van diegene wat hul huldeblyke gedeel het. “Ons innige meegevoel en simpatie gaan uit na Zanele se geliefdes in hierdie moeilike tyd. Sy was ’n baken van hoop en inspirasie vir ons nasie en het ontsaglike eer aan die land gebring. Zanele se heengaan, op so jong ouderdom, kom as ’n skok. Sy het haar hele lewe lank teenstand oorkom. Sy was gebore in apartheid Suid-Afrika in 1971, en ten spyte van struikelblokke uitgestyg om ’n sesmalige Paralimpiese deelnemer en veelvuldige Paralimpiese medalje-wenner te word. Sy sal gevier en nooit vergeet word nie.”
Die uitvoerende hoof van SASKOK, Nozipho Jafta, het bygevoeg: “Zanele was ’n Suid-Afrikaanse held. Sy was gekonfronteer met teenstand en ontbering vroeg in haar lewe en het dit oorkom, om sport op die hoogste valk – aan haar moontlik – te doen. Sy was ’n ligpunt en bron van hoop vir Suid-Afrikaners. Haar afsterwe is hartseer en in dié tyd dink ek aan haar familie en geliefdes vir krag en ondersteuning.”
In die 1982, op die ouderdom van 11, het Zanele se ouers haar na die hospitaal geneem nadat sy konstant swak en uitgeput was en gesukkel het om te loop. Sy het drie jaar in die hospitaal deurgebring. Die dokters gesê het dat haar rugwerwels so erg beskadig is dat sy nooit weer sal kan loop nie. Sy het die gebruik van beide haar bene verloor. Vasbeslote om nie deur die uitdagings wat haar gestremdheid meebring, teruggehou te word nie, het sy in 1985 met atletiek begin. In 1996 het sy vir die Wêreldbyeenkoms in Engeland gekwalifiseer, waar sy goue medaljes vir spiesgooi en diskus gewen het. Sy was ook ingeskryf om in tafeltennis deel te neem, maar dit het met haar ander items gebots.
Tydens die Tokio 2020 Paralimpiese Spele het Zanele, toe 50, aan Span SA se media gesê: “Ek voel nie 50 nie. Na dié Spele sal ek teruggaan na Stellenbosch en oefen vir die volgende byeenkoms. Ek voel geen verskil met my ouderdom nie. Solank as wat jy aanhou, voel jy sterk en voel jy nie die ouderdom nie. Oefen is iets wat ek elke dag doen. Ek is ’n atleet, soos almal anders. Ek is nie deel van die ouderdom-span nie. Ek is hier om te kompeteer. As jy ’n atleet is, moet jy jou nie bekommer oor ouderdom nie.”
Zanele word deur haar suster en dogter oorleef.
Verklaring uitgereik deur SASKOK