Maties vasbeslote om USSA-titels suksesvol te verdedig

In 2023 het die Maroenmasjien drie goue USSA-medaljes – netbal, 15man-rugby en vroue-hokkie – gewen en is vasbeslote om om vanjaar dié titels weer Matieland toe te bring.

Die 2024-byeenkomste vind meestal in Johannesburg plaas, terwyl mans- en vroue-rugby in Kimberley gespeel word. Kaapstad speel gasheer vir pluimbal.

Maties Sport se Hoofdirekteur, Ilhaam Groenewald, en Stellenbosch Universiteit se Vise-Rektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Professor Sibusiso Moyo, het die spanne aangemoedig om hul beste te gee en hul vertroue in die spanne uitgespreek om Maties trots te maak.

“Sport het die vermoë om mense te vereniging. Dit kyk verby grense en bring mense van verskillende agtergronde bymekaar en bevorder ’n gevoel van gemeenskap en gedeelde doelwitte. Die balans tussen akademie en sport bly noodsaaklik om ’n holistiese ervaring te hê. Terwyl julle die veld, astro of baan betree, onthou dat julle ambassadeurs van ons waardes is: integriteit, respek en uitnemendheid. Ding met integriteit mee, ondersteun mekaar en wys die wêreld die ware gees van ons universiteit.”

Hierdie jaar verwelkom Maties Hokkie verskeie USSA-debutante in die mans- en vroue-spanne wat hoop om indruk op die astro te maak.

Kaptein van die vrouespan, Daniella Mendes de Oliveira, het ’n aansporende toespraak aan studente en ondersteuningspersoneel gelewer.

“Aan ons student-atlete, ek wil julle gelukwens met die onwrikbare vasberadenheid wat julle getoon het om julle doelwitte te bereik. En die opofferings wat julle gemaak het om hier te wees gaan nie ongesiens verby nie. As hoë prestasie-atlete wil ons altyd meer hê, maar moenie vergeet om te kyk hoe ver julle al gekom het nie. Vertrou in julle voorbereiding en gebruik dit as ’n geleentheid om te verbeter terwyl julle teen van die beste atlete in die land meeding.”

Volgens Bevan Bennett, hoofafrigter van Maties Hokkie-manspan, is hulle gereed vir die uitdaging al het die span verskeie staatmakers verloor ná afloop van die April gradeplegtigheid. Hy is vol vertroue dat sy spelers tot die laaste sal deurdruk nadat hulle verlede jaar met 1-4 teen UP-Tuks in die 2023 USSA Hokkie-eindstryd verloor het.

“Ons het vanjaar ’n paar nuwe spelers. Om die groep te kies was nie maklik nie, omdat die mededinging onder die spelers hoog is. Ons probeer in die oomblik bly en die nodige aksies uitvoer sodat ons gereed is vir die uitdagings,” verduidelik Bennett.

USSA-hokkie aksie is by Wits van 1-5 Julie.

RUGBY

Maties se rugbymanne is die tweemalige verdedigende USSA-kampioene en spelers en afrigters sien baie uit na vanjaar se toernooi. Rhys Fulford is die span se kaptein en die afrigters vir die toernooi is Kabamba Floors en Craig Barry.

Die vroue sal vir die eerste keer aan die formaat van ’n 10s-toernooi deelneem. Almal is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging. Dié toernooi is nog ’n belangrikste stap in die bevordering van vrouerugby op universiteitsvlak.

Liza Slabbert, kaptein van die vroue-rugbyspan, het gesê: “Dit is ’n opwindende tyd vir ons. Ons speel ’n toernooi in ’n nuwe formaat – 10 spelers in elke span – en baie van die spelers is onbekend met dié tipe rugby. Ons is egter baie opgewonde oor wat op ons wag.”

Die USSA-rugbytoernooie is by die Rhodes Universiteit, Makhanda, van 1-5 Julie.

 

NETBAL

Maties het die afgelope twee jaar die USSA-titel gewen onder die afrigting Zanele Mdodana, wat intussen as Maties se breier bedank het om by die nasionale span aan te sluit as hulp-afrigter van die Proteas.

Maties was onoorwonne in die laaste twee USSA-kompetisies in 2022 en 2023. Met hul nuwe hoofafrigter, Adele Zeelie, hoop Maties Netbal om ’n driekuns van titels te verseker, aangesien hulle steeds ’n krag in die kompetisie is. Almal se oë is op afrigter Zeelie en haar span hierdie seisoen.

Die eerste span sal in Afdeling A se Superliga deelneem met Zeelie as hoofafrigter, en die tweede span sal in Afdeling B meeding met oud-Matie-netbalspeler Jo Prins as breier. Beide spanne is vol debutante, juniors en seniors wat gretig is om hul talent te wys.

Die USSA-netbaltoernooi sal by die Universiteit van Johannesburg en Wits Universiteit van 1-5 Julie plaasvind.

 

SKAAK EN PLUIMBAL

Die USSA-skaaktoernooi vind plaas by die Parkview-skaakbane in Johannesburg, terwyl die USSA-pluimbaltoernooi in Kaapstad se John Tyres-saal gespeel word. Maties Skaak sal op Sondag 30 Junie met individuele wedstryde begin en daarna op Woensdag 3 Julie voortgaan met die span-kompetisie.

Verlede jaar het Maties Skaak drie medaljes in die individuele afdeling gewen: een goud, een silwer en een brons. In die span-kompetisie het Maties die halfeindronde in beide Afdeling A en Afdeling B gehaal. Ongelukkig het hulle net-net uit gemis op ’n plek in die eindstryd. Maties het wel die bronsmedalje in albei afdelings gewen.

Maties Pluimbal het ook brons in die span-byeenkoms verwerf, terwyl die vroue-dubbelspel tweede plek in die ope kompetisie behaal het. Verder het vroue-enkelspel, vroue-dubbelspel, en gemengde dubbelspel almal bronsmedaljes gewen, tesame met ’n silwermedalje vir vroue-dubbelspel.