Stormers-haker verwerf graad aan Universiteit Stellenbosch

Dit het die Stormers se haker, JJ (Jean-Jacques) Kotze, ses jaar geneem om sy BSc Fisioterapie-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) te voltooi weens sy verpligtinge op die rugbyveld. Maar nou kan hy dié kwalifikasie amptelik agter sy naam skryf nadat sy graad aan hom toegeken is by die Desember-gradeweek van die Universiteit Stellenbosch.  Hy moes egter sy graad in absentia ontvang aangesien hy tans in Londen is vir die Europese Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Harlequins.

Net nadat Kotze in 2019 vir die “uitdagende” vierjarige BSc Fisioterapie-program ingeskryf het, is hy ‘n kontrak aangebied om vir die DHL Stormers te speel. Toe die pandemie egter die volgende jaar toeslaan, is Kotze gedwing om sy rugbyloopbaan op te skort. Dit het hom die geleentheid gegee om op sy studies te fokus.

Maar toe hy sy DHL Stormers-debuut in 2021 maak, het dit nog groter uitdagings ingehou om te studeer namate die eise van sy professionele rugbyloopbaan toegeneem het. “Ek en my dosente moes meer kreatief wees om ‘n manier te vind om my droom te verwesenlik om ‘n fisioterapeut te word. Ek moes dus my derde en vierde jaar verleng om al die praktiese ure en teorie tussen al die oefensessies en wedstryde in te pas.”

Sy raad aan ander aspirant-professionele atlete wat sport en studies balanseer, is om hulle tydsbestuur en prioritiseringsvaardighede op te knap. “Wees ook eerlik oor jou bedoelings en motiverings vir albei en maak seker jy het ‘n baie goeie ondersteuningstelsel om jou, of dit nou familie of vriende of dosente en mentors is.”

Volgens Leoné Williams, ‘n senior dosent in fisioterapie, het Kotze ten spyte van die strawwe eise van sy rugbyloopbaan saam met sy fisioterapiestudies, “soveel ywer, toewyding en passie getoon dat hy respek by almal wat hy gedurende sy studiejare teëgekom het, afgedwing het.”

Die voormalige Paul Roos Gimnasiumspeler sê die menslike liggaam, oefening en gesondheid het hom nog altyd gefassineer. En dit het ook “redelik goed” met rugby ingeskakel, voeg hy by. “Om te sien hoe betrokke ons spanfisio’s altyd by ons herstelprosesse (van die aanvanklike besering tot jy terug op die veld is) is, het dit my laat besef dat ek myself in daardie loopbaan kan sien.”

Kotze se langtermyn-rugbydoelwit is om ‘n lang loopbaan op die veld te hê en die sport te speel waarvoor hy so lief is. Dit beteken dat hy sy sport met dieselfde toewyding en intensiteit sal aanpak as waarmee hy sy studies getakel het.

“My planne vir nou is om my aandag by my rugbyloopbaan te bepaal en om te sien hoe ver ek myself kan druk. Maar ek wil regtig ook op hoogte bly van die wêreld van fisio- en gesondheidsorg en ek oorweeg dit nog steeds om verder te studeer in die vakgebiede van sport en hoë prestasie.”


Foto: ​Verska

Deur Anel Lewis

Universiteit Stellenbosch CCMD