Maties Rugby is meer as ’n klub. Dit is ’n gemeenskap, ’n gesin, en ’n erfenis wat inspireer.
Ons het vanjaar Maties Rugby se 150e herdenking gevier. Ons is die tweede oudste klub in die land, en ons storie bestaan nie net uit legendes wat huishoudelike name geword het nie, maar ook uit baie onbesonge helde wat ’n reusebydrae gemaak het om iets groter as hulself te bou. Daarom vier ons alle spelers, afrigters, vrywilligers en vennote.
Ons het ons 150-jaar-mylpaal hierdie jaar sigbaar gemaak: Varsitybeker-tuiswedstryde is rondom ons erfenis gebou; ons geleenthede en digitale veldtogte het alumni en studente verbind; en handelsmerkopgraderings by die Danie Craven-stadion en op ander plekke het almal aan ons trotse geskiedenis herinner.
Niks hiervan sou moontlik gewees het sonder die Universiteit Stellenbosch nie. Aan ons kollegas in die hoëprestasie-eenheid, en die afdelings vir fasiliteitsbestuur, finansies, bemarking, kommunikasie en geleenthede – ons bedank julle vir jul vennootskap en ondersteuning.
Aan al die vrywilligers en alumni wat gehelp het deur hul tyd af te staan, verbintenisse te vestig of ons spanne te ondersteun – ons waardeer julle.
Aan ons borge — Mitchum, Adam Piper, Hi-Tec, Snapp, WebTickets, SAB, PenBev, Eikestad en ander – julle ondersteuning is meer as net finansieel. Julle help ons om aanhangers nader aan die spel te bring en ons erfenis uit te leef.
Aan al die studente, vriende en gesinslede en ander Maties Rugby-ondersteuners – jul ondersteuning moedig ons spanne aan om harder te speel en hoër hoogtes te bereik.
En aan ons eie Maties Rugby-personeel: ’n klein, toegewyde span wat ’n swaar las dra, dikwels agter die skerms, ongesiens maar nie onopgemerk nie – dankie!
Ons het so baie om vanjaar te vier – van opknappingswerk aan die Danie Craven-stadion en die aanbieding van die Varsitybeker-kompetisie, USSA-sewestoernooi en ’n glansryke Erfenisgala-ete, tot die aankondiging van nuwe nasionale spelers en die groei van ons teenwoordigheid op sosiale media wat nou met 57 000 volgers spog en 20 miljoen indrukke genereer!
Hierdie jaar se geleenthede het die rentmeesters van hierdie klub se passie aangeblaas om seker te maak dat hierdie erfenis gereed is vir toekomstige groei, toekomstige oorwinnings en die ontwikkeling van nuwe legendes. Ons kernprioriteite is duidelik: konsolideer en verhef ons spelers se loopbaanroetes, verdiep die betrokkenheid van belanghebbers en vergroot omvang, en bou stelsels, personeel en bestuursvermoëns om sukses op te lewer.
Jaar se hoogtepunte
Verteenwoordiging
In 2025 was 1 098 studente deel van Maties Rugby.
- 825 studente het Kampusrugby gespeel, die hartklop van ons studentespel.
- 273 studente het ons in 11 mededingende spanne verteenwoordig.
Op die provinsiale en nasionale verhoog:
- 15 WP o.21-, 5 WP o.19- en 5 Curriebeker-spelers; 1 Stormer; en 1 WP Vroue-verteenwoordiger.
- 4 SA o.20-spelers, waaronder die kaptein.
- En 1 nuwe Springbok, wat die getal Maties wat die groen-en-goud gedra het op 187 bring.
Naas ons huidige spanne:
- Meer as 50 oud-Maties speel wêreldwyd professionele rugby.
- Ons het 8 huidige Springbokke en ’n kerngroep wat ’n belangrike rol speel vir die Stormers.
- Alumni speel in Ierland, Skotland, Engeland, Frankryk, Japan, die VSA en Roemenië.
- En dis nie net spelers wat presteer nie — Aimee Barrett-Theron is nou ’n Wêreldrugby-toetsskeidsregter.
Prestasie op die veld:
Dit was ’n jaar van hoogtepunte en lesse op die veld:
- Varsitybeker-mans: 1e op die punteleer, finaliste.
- Varsitybeker-vroue: Kampioene.
- USSA-mans: Tweede.
- WP-ligas: Goeie prestasies deur ons 2e, 3e, junior-Maties- en Markotter-span.
- Oor die hele klub heen: 110 wedstryde, 76 oorwinnings, wenpersentasie van 69%.
Ons het ook moeilike lesse geleer in die WP-liga, waar ons eerste span se prestasie nie aan ons verwagtinge voldoen het nie. Hierdie oomblikke is net so belangrik soos ons oorwinnings – hulle dwing ons om te herevalueer, te verfyn en te verbeter vir die volgende uitdaging.
Geleenthede:
- Ons het meer as 150 wedstryde aangebied.
- Varsitybeker by Danie Craven: kaartjies vir drie wedstryde is uitverkoop; gemiddelde bywoningsyfer was 74% van die stadion se kapasiteit.
- Kampusrugby-finaal het 3 000 toeskouers gelok, en Derby-dag 4 500.
- Ons het ook die USSA-sewestoernooi aangebied en uitstekende terugvoer van universiteite en borge ontvang.
Kommersiële groei:
- Algemene jaar-tot-jaar-inkomste het met 18% toegeneem.
- Die inkomste uit borgskappe en donasies het met 21% toegeneem.
- Die Ondersteunersklub het met 17% gegroei, van 406 tot 473 lede.
150 jaar van Maties Rugby het ons herinner wie ons is – en waarheen ons op pad is. Ons eer die legendes wat hierdie erfenis gebou het, en ons gryp die verantwoordelikheid aan om dit te versterk vir toekomstige generasies.
Ons sien uit na die volgende hoofstuk – sterker, skerper, saam.
Drikus Hancke
Hoof van Maties Rugby