Maties Parasport-atlete maak gereed vir Paralimpiese Spele

Verskeie sportsterre en alumni van die Universiteit Stellenbosch is ingesluit by Suid-Afrika se span wat van 24 Augustus tot 5 September aan die 2020 Paralimpiese Spele in Tokio sal deelneem.

Sewe huidige en voormalige Maties Sport-atlete – Anika Pretorius, Anruné Weyers, Charl du Toit, Dyan Buis, Kerwin Noemdo, Reinhardt Hamman en Zanele Situ – is in die atletiekspan opgeneem, terwyl Ernst van Dyk en Toni Mould aan die Para-fietsryitems sal deelneem. Christian Sadie sal Suid-Afrika in die swembad verteenwoordig. Die afrigters Daniel Damon (velditems) en Suzanne Fereirra (baanitems) sal ook die maroenmasjien by die Spele verteenwoordig.

Maties Parasport-bestuurder Wentzel Barnard is baie trots op die klub se goeie verteenwoordiging in die span wat aan die Paralimpiese Spele gaan deelneem.

“Ek is ook dankbaar vir die ondersteuning, insette en rol wat Maties Sport se Hoëprestasie-eenheid gespeel het in die voorbereiding van hierdie deelnemers, veral die atletiekgroep. Ek voel dit het hulle gehelp om gefokus te bly op hul Paralimpiese doelwit.

“Ek moet spesiaal melding maak van die Parasport-afrigters, wat steunpilare op en van die veld af was. Die klub is baie bevoorreg om twee toegewyde atletiekafrigters van wêreldgehalte te hê, asook fantastiese afrigters vir Para-swem en Para-fietsry,” het hy gesê.

Hoofdirekteur van Maties Sport, Ilhaam Groenewald, het daarop uitgebrei: “Die Universiteit Stellenbosch en Maties Sport het ’n sterk Parasport-geskiedenis (dit het voorheen as sport vir gestremdes bekendgestaan) en tot vandag lewer die werk van ’n paar individue steeds Paralimpiese atlete op. Ons het 12 sportsterre, afrigters en alumni wat deel is van die Suid-Afrikaanse span, en ons is baie trots op hulle almal.

“Ons getalle het egter oor die jare afgeneem, veral in terme van studente-atlete, en ons klub is ’n mikrokosmos van wat besig is om in Suid-Afrika te gebeur. Ons ondersteun ons Para-atlete heelhartig, maar ons kan dit nie alleen doen nie.”

Groenewald het Span Suid-Afrika aangemoedig.

“Die afgelope twee jaar het ’n geweldige impak op jul voorbereiding gehad, maar julle het aangehou om jul beste te gee. Vir Suid-Afrika is dit ’n ander soort ‘beste’, gegewe die groot verskille in ons beleggings in sport. Jul veerkragtigheid (resilience) het gehelp om julle sterker te maak. Julle is #TrotsSuidAfrikaans!

“Tokio 2020 gaan ’n ander ervaring wees en dit is belangrik dat almal omsien na hul geestesgesondheid. Die atletedorp bied ’n unieke geleentheid om tyd deur te bring om mekaar beter te leer ken. Julle het die geleentheid om meer oor mekaar se kultuur te wete te kom, die basiese beginsels van ’n nuwe taal baas te raak, uit te vind hoe ander lande se hoëprestasieprogramme werk en nuwe verhoudings te bou – en só die Olimpiese waardes van uitnemendheid, vriendskap en respek na te streef.”

Barnard het sy beste wense aan die span oorgedra en sy mening gedeel oor watter atlete dopgehou behoort te word.

“As ’n mens kyk na Paralimpiese Spele in die verlede, is enigiets moontlik met die vlak van mededinging wat moeiliker en meer uitdagend word. Ek sou sê die twee atlete wat dopgehou behoort te word, is die baanatleet Anruné Weyers, aangesien haar tye tans van die beste in die wêreld is, en die veldatleet Kerwin Noemdo wat aan sy eerste Paralimpiese Spele deelneem. Die veteraan-Para-fietsryer Ernst van Dyk sal ook na verwagting alles uithaal om die boonste plek op die podium te behaal.

“My wens vir almal is dat hulle na die beste van hul vermoë sal presteer en dat hulle weet dat ons as ’n nasie trots is op hulle terwyl hulle elke dag baie struikelblokke oorkom om op die hoogste vlak te kan meeding,” het hy afgesluit.