Maties-netbalspeler Kabuya blink uit op netbalbaan

In haar eerste Varsity Netbal-seisoen vir die Maties-netbalklub is verdediger Syntiche Kabuya drie keer as die speler van die wedstryd aangewys.

Dié toernooi is verlede jaar hervat ná die COVID-19-pandemie se inperkings opgehef is, maar wedstryde is agter geslote deure gespeel. Maties was die gasheer vir al sewe Varsity Netbal-spanne en die toernooi het in ’n borrel by die Coetzenburg-sentrum plaasgevind.

Kabuya onthou haar eerste wedstryd vir Maties, toe die span Kovsies 54-46 geklop het in die eerste ronde van die 2021 Varsity Netbal-toernooi, as haar mees onvergeetlike oomblik vir die maroenmasjien tot dusver. Sy is reeds in daardie wedstryd as speler van die wedstryd aangewys.

Dié kranige netbalspeler het in 2020 aan die Hoërskool Brackenfell gematrikuleer, dieselfde skool wat die Springbok-rugbyster Cheslin Kolbe en die Suid-Afrikaanse en Maties-hokkiespeler Keenan Horne opgelewer het.

Kabuya, die jongste dogter van vier kinders, is in Johannesburg gebore, maar het in Kaapstad grootgeword en haar laer- en hoërskoolloopbaan in die noordelike voorstede voltooi. Sy speel al sedert graad 3 netbal, en het tot en met graad 9 ook aan langafstandwedlope en verspring deelgeneem. Ná dit het sy haar op netbal toegespits.

Tans ’n BSc-student in haar tweede jaar, blink Kabuya steeds uit op die netbalbaan – nie net vir Maties nie, maar ook vir die Southern Stings-span in die Telkom-netballiga. Sy is in hierdie toernooi al twee keer as speler van die wedstryd aangewys, onder meer teen die Flames aan die einde van Mei 2022.

Sy word geïnspireer deur mense wat deurdruk en deursettingsvermoë toon.

Die Maties-speler is verbaas oor hoe sy aangepas het om ’n belangrike lid van die Maties-span te word, en dat sy daardie spelpeil kon deurdra na die nasionale Telkom-netballiga.

“Dit is vir my ’n skok,” sê ’n nederige Kabuya. “Ek het nie gedink ek sou in só ’n jong ouderdom vir só ’n belangrike span gekies word nie.”

Anders as baie ander jong sportsterre op universiteit, wil dié jong verdediger nie net op die baan presteer nie, maar ook weg van die baan af, en daarom streef sy nie noodwendig daarna om vir provinsiale of nasionale spanne gekies te word nie.

“My loopbaandoelwit is om eendag ’n voedselwetenskaplike te word wat in ’n laboratorium werk, en my sportdoelwit is om te voel dat ek my beste gee elke keer wanneer ek die netbalbaan betree.”