Voormalige WP-kaptein deel wysheid by eerste Kapteine-gespreksessie

Deur Jamie Wyngaardt.

Maties Sport het onlangs sy eerste Kapteine-gespreksessie (Captain’s Corner) aangebied met die voormalige WP-rugbykaptein Chris van Zyl as gasspreker.

Die doel van die forum is om aan Maties Sport-kapteine en -onderkapteine van die verskillende sportkodes ’n nuwe begrip van leierskap te gee, en hoe om dit in hul onderskeie spanne toe te pas.

Dit is noodsaaklik dat gassprekers spanne gelei het en die universiteitsportomgewing en hoëprestasiekodes verstaan. Al die gassprekers wat vir hierdie sessies genader is, het Maties op die sportveld verteenwoordig, hul graad verwerf en as kaptein van ’n span opgetree. Chris van Zyl was ’n topkeuse – hy het sy BRek Honneursgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, Maties in die 2011 Varsitybeker-toernooi verteenwoordig en later kaptein van die WP-rugbyspan geword.

Die bespreking het gehandel oor die verantwoordelikhede van ’n leier, en Chris se insigte oor hoe hy akademie en sport gebalanseer het. Hy het erken dat dit nie altyd maklik was nie, maar dat harde werk en vasberadenheid hom gedruk het om die beste te wees wat hy kon wees.

Volgens Grant van Velden, bestuurder: Sporttegnologie en Oefeninnovasie by Maties Sport, het Chris met die groep gedeel dat hy daarby gebaat om sy spanmaats regtig goed te leer ken.

“Die bou van vertroue en sterk verhoudings met sy spanmaats was ’n fundamentele deel van hoe hy die spanne waarvan hy kaptein was, gelei het. Hy het ook beklemtoon hoe belangrik dit was om tyd saam met sy spanmaats te spandeer en pret te hê buite die sportomgewing. Dit het hom gehelp om verhoudings te bou met sy spanmaats weg van die oefenfasiliteite af.”

Altesame 13 Maties Sport-kapteine en -onderkapteine het die sessie bygewoon, van sportkodes soos sokker, basketbal, hokkie, krieket, netbal en waterpolo.

Van Velden, wat die geleentheid gefasiliteer het, het gesê hulle beoog om die volgende sessie in die nuwe semester aan te bied, sodra die studente van hul wintervakansie teruggekeer het.

“Ek dink die Kapteine-gespreksessie gee ons spansportkapteine die geleentheid om met mekaar interaksie te hê, iets wat nie werklik in die verlede gebeur het nie. Hulle kan dus idees en oplossings vir probleme uit hul verskillende omgewings deel,” het Van Velden bygevoeg.

Die sessies gee kapteine en onderkapteine ook die geleentheid om nuwe kennis op te doen wat hulle prakties in hul spanomgewings kan toepas.

Maties Sport sien uit om nog sulke sessies aan te bied, en die plan is om alumni Keenan Horne, onderkaptein van die Suid-Afrikaanse manshokkiespan, en Mariske Strauss, professionele fietsryer, te nooi om by hierdie sessies op te tree.