Vroue in sportleierskap: Anja Lamont – voorsitter van Maties Tafeltennis

Deur Jamie Wyngaardt.

Hoewel dit kan voorkom of tafeltennis ’n sosiale sport is, neem Anja Lamont dit baie ernstig op en het sy al sedert ’n jong ouderdom ’n passie daarvoor. As skoolkind het sy tennis gespeel, aangesien dit algemeen in skole aangebied word en sy afrigting by ’n tennisafrigter kon kry.

“Dit was die naaste ding aan my ware passie, wat nog altyd tafeltennis was,” sê Lamont.

Sy onthou hoe sy as kleuter haar grootouers se huis in Desember-skoolvakansies besoek het. Hulle het ’n tafeltennistafel gehad, en sy het daarop aangedring om te speel, hoewel sy skaars oor die tafelrand kon sien. Haar neefs en niggies het haar ingesluit, maar as sy nou daaraan terugdink, besef sy sy was eintlik maar net die baljoggie.

Hulle het uiteindelik ’n tafel by hul eie huis gekry. Haar pa sou saam met haar speel, en toe sy 10 geword het, het hulle aangesluit by die plaaslike tafeltennisklub op Knysna, waar hulle in daardie stadium gewoon het.

Lamont onthou dat die klublede meestal afgetredenes was, maar dat sy dit geniet het om deel te wees van ’n gemeenskap waar almal die vreugde van die spel gedeel het, al was die meeste lede minstens 50 jaar ouer as sy.

“Die klublede was baie verwelkomend en het my baie oor die spel geleer.”

Lamont onthou ook een Desember, toe haar neef en sy universiteitsvriende besoek afgelê het en hard moes swoeg om ’n paar punte teen die 11-jarige tafeltennisspeler te wen.

Haar tafeltennisloopbaan is onderbreek toe haar gesin getrek het, maar sy het steeds saam met haar pa en van haar vriende gespeel.

Toe sy by die Universiteit Stellenbosch aangekom het, het sy die tafeltennisstalletjie by die jaarlikse bekendstellingsbyeenkoms vir verenigings en sportklubs opgesoek en onmiddellik aangesluit. Sy is ook intussen tot voorsitter verkies.

“Ek het baie verbeter met die hulp van sommige van die meer ervare klublede en ek geniet elke oomblik van oefensessies en toernooie.”

Die ondersteuning van haar uitvoerende komitee, en veral haar medevoorsitter Jaco, het haar gehelp op haar reis as ’n leier van die sportkode.

Die werwing van nuwe spelers is een van Lamont se hoogtepunte as voorsitter. Tafeltennis is ’n ontspanningsportkode by Maties, en daarom maak mense wat belangstel en gretig is om op mededingende vlak deel te neem, haar opgewonde.

Hoewel die klub maar ’n handvol vrouelede het, hoop sy dat meer vrouespelers by die klub sal aansluit.

“Die sport het nodig dat meer vroue na vore kom. Ek sou graag, voor ek Maties verlaat, wou sien dat ons ’n sterk vrouespan vestig.

“Naas die leierskapaspek, is dit ook baie bevredigend om te verbeter en die skok op sommige ouens se gesig te sien as hulle deur ’n vrou geklop word.”

Die klub was die trotse gasheer van ’n Statebondspele-toernooi in April en het die geleentheid gehad om saam met atlete uit ander Afrika-lande te oefen en afrigting by hul afrigters te ontvang.

“Ons wil ook graag ’n betaalde afrigter aanstel sodat ons kan voorberei vir die Universiteitsport Suid-Afrika (USSA-) toernooi aan die einde van die jaar.”

Lamont koördineer ook ’n koshuisliga, wat in die tweede kwartaal begin het. Die finaal sal na verwagting in die vierde kwartaal plaasvind.