Vroueleierskap in Sport – Alouise Campher: Maties Sport-muurbalklubvoorsitter

Deur Jamie Wyngaardt

As ’n lewenslange sportfanatikus gesels Alouise Campher oor haar eie reis met sport en hoe belangrik dit is om jou drome na te streef.

Sy was nege toe sy aan sport begin deelneem het, en was onmiddellik dol oor muurbal. Hoewel sy aanvanklik aan muurbal, tennis, netbal én jukskei deelgeneem het, het sy op hoërskool besluit om haar op muurbal toe te spits.

Haar pa was die muurbalafrigter by Hoërskool Outeniqua in George, en sy het dikwels saam met die hoërskoolspan getoer. Dit het haar ’n voorsmakie gegee van hoe dit sou wees om op mededingende vlak aan muurbal deel te neem, wat haar liefde vir die sport laat toeneem het.

Sy is op hoërskool vir die SA Skole Muurbalspan gekies en het ook saam met die span oorsee gereis. Muurbal het aan haar die geleentheid gebied om oorsee te gaan, maar dit was haar pa wat haar geïnspireer het om by sportleierskap betrokke te raak. Toe sy by die Universiteit Stellenbosch aangekom het en by die muurbalklub aangesluit het, het sy ’n geleentheid vir groei gesien en dit aangegryp.

Aangesien sy jare se ervaring gehad het as ’n sportvrou wat studies en sport moes balanseer, het sy die geleentheid om klubvoorsitter te word, beskou as ’n uitdaging wat sy bereid was om aan te pak.

“My wens vir die klub is om ’n beter verhouding tussen die studentekomitee en die bestuur van Maties Sport te kweek, sodat spelers beloon kan word vir al hul harde werk en inspanning wanneer hulle die universiteit verteenwoordig. Ek sal ook graag wil sien dat daar ’n gemeenskapsgevoel onder spelers ontstaan, aangesien almal so ver van mekaar gevoel het tydens die COVID-19-pandemie,” sê Campher.

Sy soek deurlopend na maniere om die muurbalklub te verbeter en sy hoop dat meer mense sal aansluit en die sport so baie sal geniet soos sy.

“Die gemeenskapsgevoel en ons gedeelde liefde vir die sport is beslis van my kosbaarste oomblikke as voorsitter, en ook die reël van ’n dubbelstoernooi om geld in te samel vir ons USSA-toernooi. Dit was lekker om so baie ondersteuning van medeklublede te kry en om te sien hoe almal die aand geniet,” sê sy.

“Ek is seker dat die USSA-toernooi ’n hoogtepunt van my jaar gaan wees,” meen Campher. Die USSA-muurbaltoernooi is van 4-9 Julie deur Rhodes Universiteit aangebied.

Maties se muurbalklub verwelkom enigiemand wat wil aansluit. Dit word bestuur deur studente wat bereid is om help met die ontwikkeling van spelers en die klub. Die klub neem tans deel aan twee ligas – die WP-liga, wat beteken dat hulle weekliks teen ander klubs in en om Stellenbosch meeding, en ’n koshuisliga, waar verskillende koshuise teen mekaar meeding.

Die klub maak ook voorsiening vir lede wat nie studente is nie wat in die week speel, en sosiale spelers wat net vir die pret speel.

Op die vraag of sy enige woorde van aanmoedig het vir ander vroue wat daarna streef om leierskapposisies by Matiesportklubs te vul, sê sy: “Moet nooit bang wees om enigiets aan te pak wat jou hart begeer nie. As jy nie probeer om posisies te vul wat buite jou gemaksone is nie, sal jy nooit weet hoe jy in die veld kan uitblink nie.”