Maties uiteindelik weer USSA-netbalkampioene

Die Maties Netbal-span is as die 2022 USSA-kampioen by die jaarlikse Universiteitsport Suid-Afrika-toernooi gekroon deur die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) in die eindstryd met 44-20 te klop. 

Die Maroenmasjien het die week begin met oortuigende seges oor Tuks, Noordwes-Universiteit en NMU. Die wen-momentum en waardevolle ervaring van verlede jaar se Varsity Sports-netbaleindstryd het die span goed voorberei op wat ’n geskiedkundige oorwinning was. 

Afrigter Zanele Mdodana, wat in 2017 by Maties aangesluit het, het die voorreg gehad om haar span te ontwikkel oor die jare. Die teleurstelling van nederlae in eindstryde en die ontwrigting van die sportkalender weens die Covid-19-pandemie, het die titel soveel soeter gemaak vir afrigter en spelers. 

Die laaste USSA-oorwinning vir Maties Netbal was in 1995. Lana Krige, die NMU-hoofafrigter, was kaptein van dié Maties-span. 

“Dit is inderdaad asof ons die sirkel voltooi het. Lana was my afrigter toe ek by NMU was. Sy was ook op provinsiale vlak my afrigter. Sy is my mentor. Alles wat ek van die spel weet, het ek by haar geleer. Ek maak steeds gebruik van haar afrigtingshandleidings en -tegnieke,” sê Mdodana. 

“Ek en Lana het gesels en toe vertel sy my dat die laaste keer wat Maties die goue medalje by USSA gewen het, was in 1995 en sy was die kaptein van daardie span! Ek kon dit nie glo nie! Sy het vir my die foto van daardie span gewys, maar gesê sy sal eers ná die eindstryd vir my dit stuur. 

“Die manier waarop die Madibaz in die eindstryd gekom het, getuig van hoe briljant Lana is. Dit was nogal ’n senutergende situasie vir my, want ek weet hoe goed sy is en ek weet hoe haar spelers op haar reageer, en dit was regtig goed vir ons om op die baan te gaan en net ons gesag af te druk.” 

Nou, 27 jaar later het Mdodana die voorreg gehad om die span na sy eerste USSA-oorwinning in byna drie dekades te lei. 

“Die spelers het aan die begin van die jaar vir my gesê ‘Coach, ons klop al so lank aan dié deur en dit is tyd dat harde werk vrugte afwerp en ons opofferings die beloning kry wat dit verdien’. Ons het in stilte deur baie uitdagings gegaan in die aanloop tot die USSA-toernooi, maar dit was uiteindelik die spelers wat bymekaar gekom het en mekaar en die span eerste gestel het. Elke speler het hard gewerk en baie opgeoffer vir dié USSA goue medalje. Dié sege is in my boek een van die hoogtepunte in my netbalafrigtingsloopbaan tot dusver.”  

Charlé Swart, sportbestuurder vir netbal, is net so gelukkig soos haar afrigter met die oorwinning vir die klub. 

“As klubbestuurder voel ek ons het nou uiteindelik die teleurstelling met eindstryde agtergelaat. Ons moet egter nou nie die storie te ver vooruit loop nie en die belangrikste is om op dié sege voort te bou. Hierdie groep spelers saam met die afrigters het regtig hard gewerk en is nou daarvoor beloon. Sukses versterk altyd die span en is goed vir die selfvertroue, so ek sien uit na die res van die seisoen. Ons sal nou terugkyk oor die toernooi en kyk hoe ons kan aanhou verbeter op en van die baan af.” 

 ’n Getuienis van die huidige verbeterings op en van die baan is Mdodana se spanfilosofie oor die jare. 

“Ek het baie filosofieë gehad die afgelope paar jaar, maar spesifiek vir hierdie toernooi het ons op twee dinge gefokus. Eerstens moed. Moed om te doen wat ons die beste doen, moed om die balle te gooi wat ons al soveel keer aangee het, moed om die doele van enige plek in die doelsirkel te gooi, want jy het dit al soveel keer van te vore gedoen, moed om selfversekerd te wees en beheer te neem, moed om met jou hele hart te verdedig en moed om elke span waarteen ons speel, aan te vat en nie met vrees speel nie, maar met moed. 

“Tweedens het ons gefokus op die taak in die oomblik, niks anders het saak gemaak nie as die taak in die oomblik. Wanneer ons ons koppe neersit en speel soos net ons kan, is ons feitlik onmoontlik om te klop,” vertel Mdodana. 

Maties se benadering op pad na die eindstryd was dat hulle vir die eerste keer teen Madibaz speel en dit was belangrik vir die span om so vinnig as moontlik beheer van die wedstryd te neem. Maties het die Oos-Kapenaars geen kans gegee om in wedstryd te kom nie. Dit was ’n groot voorreg vir Mdodana om Krige in die eindstryd te pak.  

“Ek was verstom met die vertonings van my spelers. Hulle het my met elke wedstryd stomgeslaan en hulle samespel as eenheid was ongelooflik. Elke speler het gegroei. Elkeen van die 12 spelers was aktief betrokke by die veldtog, dit was nie sewe spelers met vyf wat op die plaasvervangersbank gesit het nie. Ons kon enige iemand op enige gegewe oomblik speel sonder om kwaliteit in te boet.” 

Bo en behalwe om met die goue medalje weg te stap, het drie Maties die USSA-droomspan gehaal. Hulle is kaptein en doel Sian Moore, verdediger Syntiche Kabuya en middelbaan-speler Chrisley Marshall. Maties se tweede span het derde geëindig in die B-afdeling. 

“Sian het die span met voorbeeld gelei. Dit was baie belangrik. Sy het die span gedra, haar troepe bymekaar gehou en sy het laser fokus gehad. Ons het ’n plan gehad, opgedaag en dit uitgevoer. Op en van die baan af. Wanneer dit kom by voeding, afkoeling, opwarming – al daardie baie basiese dinge – het ons nie kortpad gevat nie. Ons het toewyding en dissipline gekweek en dit was sleutel tot ons sukses.” 

Deur Kimara Singh