Maties skitter by USSA-toernooie

Maties het uitgeblink by die onlangse Universiteitsport van Suid-Afrika (USSA) byeenkomste en oorwinnings in verskeie sportkodes behaal. 

Die Maroen-masjien het die goud in die mansrugby-, mans- en vrouehokkie én netbal huis toe geneem, terwyl ’n aantal silwer- en bronsmedaljes vir ’n indrukwekkende medalje-telling gesorg het. 

Rugby 

In ’n herhaling van die 2022 Varsitybeker-eindstryd was dit Maties teen Tuks in die eindstryd van Afdeling A. Dié slag was dit Maties wat die tuisspan se hart gebreek het. 

Maties het goed begin en was met rustyd 17-7 voor. Die Maroen-masjien het sy voorsprong in die tweede helfte tot 24-7 gerek voordat Tuks teruggeveg het met ‘n paar drieë, maar Maties het vasgebyt. Die eindtelling was 27-19. 

 

Hokkie 

Beide die mans- en vrouehokkiespanne het in die eindstryd van Afdeling A gespeel. Aksie was by die Universiteit van Kaapstad se astro.   

Vroue-eindstryd 

Maties het die verdedigende kampioen Tuks die stryd aangesê. 

Kayla Swarts het Maties se eerste doel van die stryd aangeteken met ’n perfek uitgevoerde skoot van ’n korthoek. Die telling met rustyd was 1-0. 

Kort ná die aanvangs van die derde kwart het Tuks sake gelyk gemaak. Met net vier minute oor het Maties se Caylin Maree beheer geneem en met puik spel Maties die nodige voorsprong gegee.  

Met die horlosie wat die sekondes afgetel het, het Maties se vrouespan vasgebyt  om nóg ’n USSA-titel te verseker danksy ’n 2-1 sege. 

Manseindstryd 

Maties-manshokkiespan het in die eindstryd Tuks die stryd aangesê, met die hoop om die prestasie van die Maties-vrouespan in die vorige wedstryd te herhaal. 

Tuks het ná net drie minute met 1-0 voorgeloop. Dit was in die tweede kwart wat Maties beheer van sake geneem het. Eers het Jacques van Tonder die telling gelykop gemaak ná ’n strafhoek. In dié kwart was daar geen keer aan Van Tonder nie. Hy het ’n driekuns voltooi en met rustyd was Maties 3-1 voor danksy Van Tonder en Maties se strafhoek-spel. 

Met die aanvang van die tweede helfte het Rohniel Terblanche ook sy naam op die puntelys gesit. Maties 4, Tuks 1. Net soos Tuks betaam, was die vuur nie geblus nie. Twee strafhoek-doele in die derde kwart het verseker Tuks bly binne trefafstand met nog een kwart se spel oor. 

Met vyf minute oor in die wedstryd, het Viwe Mbatha Maties se voorsprong weer laat groei tot twee doele en dit was dit.  

Dit was ’n geskiedkundige dag met twee goue medaljes vir die Maties-hokkieklub. ’n Lekker bonus was Van Tonder en Stephanie Botha se mans – en vrouespelers van die Toernooi-toekennings onderskeidelik. 

Netbal 

Maties het met sy sege oor NMU in die USSA-eindstryd sy eerste USSA-netbaltitel in 27 jaar huis toe gebring. Die eindtelling was 44-20. 

Maties het sterk begin en ’n voorsprong van 11-4 in die eerste kwart opgebou. Die spelers het nie hul voet van die pedaal gehaal nie en met rustyd was die telling 21-10. In die derde kwart het Maties net voortgebou op die eerste helfte en met die aanvang van die laaste 15 minute was Maties op die rand van ’n geskiedkundige sege. 

Die oorwinning was suksesvolle hoofstuk in wat geëindig het as Maties Netbal se mees suksesvolle jaar ooit. 

Die Maties se tweede span het die bronsmedalje in Afdeling B gewen. 

Muurbal 

USSA se muurbal aksie het in Grahamstad plaasgevind. 

Maties het begin met drie individuele medaljes. Keagan Waugh het goud in die B-afdeling vir mans gewen, Luke Delmulle was baas in die C-afdeling en Nina Everson het brons in die B-afdeling vir vroue gewen. 

In die spankompetisie het Maties die eindronde in beide Afdeling A-en Afdeling B gehaal. Na ’n titaniese stryd in albei kompetisies het Maties die silwermedaljes na Matieland teruggebring. 

Deur Cody Hansen