2022 Maties Sporttoekennings gee erkenning aan uitsonderlike studente-atlete

Die jaar 2022 was ’n uitsonderlike tyd vir Maties Sport. Studente-atlete het weer ten volle aan sport deelgeneem en alle toernooie en byeenkomste het plaasgevind. Verskeie Maties-atlete en -spanne het aan nasionale en internasionale byeenkomste deelgeneem. Dit alles terwyl hulle ook akademies presteer het.

 

Vanjaar se Maties Sporttoekennings was ’n geleentheid om uitblinkers se prestasies te vier in teenwoordigheid van personeel en mede-studente-atlete. Dit was die eerste keer sedert 2019 wat die aand in persoon bygewoon is en 300 gaste was deel van die vieringe. Professor Thuli Madonsela was die gasspreker en het oor die verdieping van demokrasie deur sport gepraat.

 

Die studente-atlete het erkenning vir hul prestasies op en van die veld af gekry. Elke ontvanger van sy of haar toekenning het dit verdien ná al die harde werk wat vanjaar in die onderskeie sportkodes ingegaan het.

 

“Die Maties Sport-span is trots op die vasberadenheid en pogings wat baie studente aangepak het sedert die pandemie-beperkings opgehef is. En as hoofdirekteur is ek in verwondering oor die massiewe vordering wat ons studente-atlete gemaak het om vanjaar op podiums te staan – sulke uitmuntende prestasies deur soveel van ons studente-atlete,” het Ilhaam Groenewald Maties Sport hoofdirekteur gesê.

 

Die beste van die bestes is aangewys toe Charl du Toit en Anika Pretorius as Sportman en Sportvrou van die Jaar in die Parasport-kategorie aangewys is. Clayton Saker (hokkie) en Mire Reinstorf (paalspring) het met die titels as Sportman en Sportvrou van die Jaar weggestap.

 

 

“Dit is ’n ongelooflike eer om hierdie wonderlike toekenning vir die tweede agtereenvolgende keer te ontvang. Dit is so ’n voorreg en ek wil net baie dankie sê aan Maties Sport vir alles wat vir my die afgelope jaar gedoen is. Die ondersteuning na afloop van die Paralimpiese Spele was ongelooflik. Ek het deur ’n baie moeilike tyd gegaan. Aan Sean Surmon en Grant van Velde wil ek net baie dankie sê vir die ondersteuning. Ek het ook by Maties Roei aangesluit na my voetbesering, wat ongelooflik was, so dankie aan Maties Roei vir die geleentheid!” het Anika Pretorius gesê.

 

“Dit is ’n ongelooflike eer om die Maties Sportman van die Jaar (Parasport) te wees, hierdie universiteit het soveel vir my gedoen, en ek waardeer opreg al die geleenthede wat ek die afgelope paar jare ontvang het. Dit was my laaste jaar as lid van Maties Sport en baie dankie aan almal wat in hierdie reis belê het: my afrigter Suzanne Ferreira, Sean Surmon en almal by Maties Sport,” het Charl du Toit vertel.

 

“Ek is dankbaar vir die toekenning en baie bly om dit te ontvang. Ek wil almal bedank wat my deur hierdie reis ondersteun het en wat elke dag en elke tree van die pad daar was vir my: my familie, my afrigter, my vriende en my Hemelse Vader,” het Mire Reinstorf gesê.

 

“Ek is effe oorweldig deur my emosies. Hierdie toekenning is spesiaal en om daarmee vereer te word, is besonders. Baie geluk aan almal wat genomineer is. Uiteindelik het ons almal suksesse gevier. Ek is dankbaar en besef hoe bevoorreg ek is om die titel te ontvang,” het ’n emosionele Clayton Saker gesê.

 

Maties se triomfantlike netbal-afrigter, Zanele Mdodana, het weggestap met die gesogte Afrigter van die Jaar in Spansport-toekenning en die ervare Suzanne Ferreira het die toekenning in die Individuele Sport-kategorie ontvang.

 

Mdodana het gesê: “Ek het eerlikwaar nie dié een verwag nie, maar ek is geëerd. Ek is trots op my span en die manier waarop elke individu hierdie seisoen opgedaag het. Ons het van die begin af hard gewerk, so ek is ’n trotse afrigter. Dié toekenning dra ek op aan my ma, aan my kaptein Sian Moore – sy was fenomenaal – en my spelers.”

 

Spesiale toekennings is aan USSA-wenners in 2021/22 en ons onlangse Varsity Sport-wenners gegee. Ekstra vermelding aan Maties se krieket- en netbalspanne wat onoorwonne was in hul tog na Varsity-oorwinnings. Vir albei was dit ’n eerste. Maties Roei het groot gewen in die media-kategorie vir sy innoverende en opvallende inhoud op sosiale media. Die Span van die Jaar is aan netbal vir ’n uitstaande 2022 toegeken en Klub van die Jaar het aan hokkie gegaan.

 

Nog ’n aanduiding dat Maties Sport ’n holistiese ervaring is, is bewys met die 50 studente-atlete wat ere-kleure ontvang het en 20 atlete wat erkenning vir hul akademiese prestasies gekry het.

 

’n Spesiale erkenningstoekenning is aan uittredende prof. Eugene Cloete gegee vir sy bydrae tot Maties Sport oor die jare. Meriete toekennings is aan Shannon Stodel (Studente-administrateur), Candice Williams en Grant van Velden (Uitvoerende Leierskap) en aan Cameron Laurenson en Adam Moncherry (nie-studente) gegee.

 

Deur Maties Sport Media en Kommunikasie-eenheid